Skuil die volgende Desiree Ellis dalk in Protea Park?
Keshia Juries (19) se droom om ’n professionele sokkerafrigter te word, het vlerke gekry en sy vertrek binnekort na Dallas, Texas (VSA) waar sy deel van die Ikapa-o.19-afrigtingspan sal wees.
Volgens Juries sal die tyd in Amerika haar vaardigheid toets en sy hoop een of ander talentsoeker sal haar raaksien. Juries vertel opgewonde dit is ’n een-in-’n-leeftyd-geleentheid wat sy nie wil mis nie.
“Ek het op ’n jong ouderdom saam met my broers begin sokker kyk,” sê sy.
Dié jong afrigter, wat tans die afrigter van Robinvale Spurs se o.10-span is, sê hulle was in haar eerste jaar as afrigter van dié span reeds die naaswenners in die liga. Sy vertel met ’n vonkel in die oog dat sy op negejarige ouderdom begin sokker speel het toe die gogga haar byt.
“Ek het later besef ek sou dalk ’n beter afrigter wees en die leiers by Robinvale Spurs het die deur oopgemaak,” vertel sy. “Ek rig die o.10-spannetjie nou drie jaar af en niks verskaf my meer plesier nie.”
Juries sê ook hoewel sy as ontwikkelende afrigter saamgaan, hoop sy steeds om ’n indruk op talentsoekers te maak.
Die jaarlikse Dallas Cup word van 12 Maart tot 4 April beslis.
“Ek gee nog altyd net my beste,” sê sy.
Haar span het in 2022 by die Rygate-toernooi tot in die eindstryd gevorder, waar hulle die kampioenskap gewen het. In haar kort tydjie as afrigter is sy verlede jaar deur haar klub as afrigter van die jaar erken en sy sê dit spoor haar net aan om nog beter te vaar.
Juries vertel trots dat Thurston “Spider” Johnson en Grant “Hammer” Gertze ook hard agter die skerms gewerk het om haar te help ontwikkel en haar familie staan bankvas agter haar.





