Die Mamre- vereniging van gemeenskaplike eiendomme en die Laaste Stuiwer- begunstigde-trust, tesame met Mamre Sakekamer en verskeie belangegroepe van die dorp, het onlangs met die Wes-Kaapse minister van infrastraktuur vergader.
Volgens Celeste Arendse, die waarnemende voorsitter van die Mamre- vereniging van gemeenskaplike eiendomme, was die vergadering met die minister, Tertuis Simmers, nodig om die pad vorentoe te bespreek.
Volgens Arendse was die hoofrede vir die vergadering op Woensdag 14 Maart om by die provinsiale regering hulp te vra vir die behuisingsnood en die ontwikkeling van ’n behuisingsprojek op grond van die Transformation of Certain Rural Areas Act (Trancraa) en ’n ontwikkelingsplan op restitusiegrond.
“Ek kan met vertroue sê dat hierdie vergadering baie vrugtevol was en dat die span van die minister reg is om die gemeenskap te help en die ontwikkeling van die dorp vorentoe te neem.”
Volgens Arendse het die onderskeie komitees wat die vergadering bygewoon het, ook ’n resolusie geneem en Simmers verseker almal sal hul volle samewerking gee ten bate van die ontwikkeling van die gemeenskap.
“En ek bly ten volle by die leuse dat ons is hier om geskiedenis te maak en nie die foute van die verlede te herhaal nie, en dat ontwikkeling vir ons mense ons topprioriteit is en dat ons ons restitusiegrond ten volle moet ontwikkel en tot voordeel van ons restitusie-gemeenskap moet benut,” sê Arendse.
Volgens haar sal baie water nog in die see moet loop, maar almal is reg om die wiel aan die rol te kry en opvolgvergaderings word reeds beplan.
Volgens die wyksraadslid en subraad-1-voorsitter Allister Lightburn ondersteun hy die groepe ten volle en sê deur samewerking kan inwoners die vrugte pluk. Arendse het ook erken hulle kan slegs deur samewerking met alle regeringsvlakke uitsien na positiewe resultate.




