Mamre en die rugbygemeenskap is die afgelope Donderdag – op Menseregtedag, 21 Maart – hard geslaan met die nuus dat die legendariese vlugvoetige rugbyspeler John Stubbs ná ’n kort siekte oorlede is.
Stubbs is op 3 Februarie 1948 op Genadendal in die Overberg-omgewing gebore. Hier het hy skoolgegaan tot in standerd ses (gr. 8) voordat hy na Mamre verhuis het.
Hy is deur sy suster Louise Stubbs Philander grootgemaak nadat beide sy ouers vroeg oorlede is. Sy liefde vir rugby het reeds op ’n jong ouderdom in Genadendal begin. Hy het kort nadat hy na Mamre verhuis het, op 17-jarige ouderdom by die Oaks-rugbyklub van Mamre aangesluit en as vleuel uitgedraf. Hy het egter later na losskakel verskuif, waar hy vir hom ’n naam begin maak het en gou as die “wonderseun van rugby” beskou is.
Beserings en politieke druk uit sy gemeenskap het Stubbs gepootjie, anders kon hy heel moontlik die eerste bruin Springbok geword het.
In sy speeldae as senior speler het hy die Malmesbury Unie-streekspan in die Boland-liga as kaptein aangevoer en die SA Federasiespan as onderkaptein.
As 21-jarige is hy vir die Dougie Dyers SA Federasie-toerspan gekies om in 1971-’72 in Engeland te gaan toer, maar moes hom weens politieke druk van sy gemeenskap en klub aan die toer onttrek. Hy het wel later die SA Federasie-span in verskeie internasionale wedstryde teen die Luiperds, ’n Suid Afrikaanse span van swart spelers, en verskeie internasionale rugbyspanne verteenwoordig.
Stubbs en Errol Tobias het baie kere sake om die SA Federasie- nommer 10-trui uitgespook. Stubbs het Tobias met skitterende spel in 1976 uit die nommer-10-posisie gelig om teen Andy Leslie se All Black-toerspan op die Goodwood-skouterrein te speel.
Stubbs is as een van die beste losskakels in federasie-rugbykringe beskou, maar ’n enkelbesering teen Vredenburg in 1983 het sy rugbyloopbaan beëindig. Volgens die legendariese Japie Liedeman, ’n Protea-, SA Federasie- en Bolandliga-spanmaat, was Stubbs een van die moeilikste om op ’n rugbyveld op te som. “Hy het jou nooit in die gesig gekyk as jy teen hom gespeel het nie, en dit het hom baie bedrieglik gemaak,” het Liedeman gesê.
Volgens een van sy destydse spanmaats en later klubkaptein, Joos Warnick, het Stubbs nie baie op ’n rugbyveld gepraat nie, maar sy voete en hande die praatwerk laat doen.
Stubbs sal gewis vir sy goeie rugby en administrasie onthou word. In sy jong rugbydae was hy ’n bedreiging vir menige teenstaanders, en so kan die oud-Protea/Boland/WP Liga/WP- spanmaats en selfs Tobias, die eerste bruin Springbok-losskakel, getuig.
Stubbs laat vier seuns, 10 kleinkinders en een agterkleinkind agter.
’n Gedenkdiens word vandag (Dinsdag 26 Maart) om 19:00 by die Mamre Primêre skoolsaal gehou.





