Ouers van verskillende skole in Atlantis braak behoorlik gal oor die Wes-Kaapse onderwysdepartement se beëindiging van kontrak-opvoeders.
Ongeveer 40 plaaslike opvoeders moes met die terugkeer ná Paasnaweek hoor hulle is nou werkloos. Dit het gelei tot verskillende vergaderings met ouers en die departement.
Volgens Vaughan Murray, die voorsitter van die prinsipale vereniging, is gesprekke tussen skole en die departement op dreef, en is bevestig dat die helfte van die opvoeders reeds terug is by die werk. Murray het ook erken dat die departement reeds verlede jaar ’n skrywe gestuur het dat kontrakte opgeskort gaan word weens begrotingkortings.
Volgens van die ouers is hulle ongelukkig omdat dit beteken dat klasse wat reeds oorvol is, nou nog groter gaan raak, wat beteken dat opvoeding onmoontlik kan raak. Hulle vrees ook dat die agterstand in opvoeding van sekere vakke net groter en groter kan raak en voel die departement kan meer doen om dit te verhoed.
Die groep ouers het aan WeskusNuus gesê dit beteken ook dat hoofde en die bestuurspan dalk hul pligte om skole doeltreffend te bestuur, kan belemmer om meer klas te gee.
Volgens David Maynier, die Wes-Kaapse minister van onderwys, doen sy departement reeds alles in sy vermoë om skole by te staan. Volgens die minister moet hulle die 2024-’25- boekjaar met R870 miljoen minder oor die weg kom weens die korting op begrotings. Die minister sê ook dat hulle reeds in November ’n skrywe aan skole, beheerliggame, unies [vakbonde] en opvoeders gestuur het dat dringend na kostebesparings gekyk sal moet word.
Baie skole het wel vinnig op die skrywe reageer en van 1 Januarie vanjaar tot 31 Maart is 3 100 kontrakposte in permanente poste omgeskep, het Maynier gesê. Volgens Murray is hier wel skole wat nie beïnvloed word deur die besluit nie, maar daar is wel skole wat tot vier opvoeders verloor. Murray het ook ouers by die vergadering gevra om skole se geldinsamelingsgeleenthede te ondersteun aangesien dit tot die skep van poste kan bydra.
Volgens Allister Lightburn, voorsitter van subraad 1, het Murray die kwessie onder sy aandag gebring en hy en die subraad 1-bestuurder Wessie van der Westhuizen het aan verskeie rolspelers geskryf om die situasie te beredder.




