Die vermeende verdagte wat gesoek was in verband met die skietdood van sers. Aidan Mahoney gister (Woensdag 17 April) in Mamre is vroeër vandag (Donderdag 18 April) ná ’n skermutseling met die polisie doodgeskiet.
Justin Pick, ook bekend as “Honger” het na bewering deur die nag in Druiwelaan geskuil voordat hy te voet verder wou vlug maar het hom teen die polisie vasgeloop.
Volgens omstanders op die toneel wou die vermeende verdagte op die polisie skiet voordat hy doodgeskiet is. Dit kom ná ’n grootskaalse soektog na die vermeende verdagte wat Mahoney Woensdagmiddag met sy eie dienspistool doodgeskiet het, en daarna te voet gevlug het.
Volgens brig. Novela Potelwa, provinsiale polisiewoordvoerder het Mahoney en sy kollega op ’n klagte van gesinsgeweld reageer toe die tragedie ontvou het.
Die soektog na Pick het byna heelnag geduur met die hulp van die honde-eenheid, perde-eenheid, provinsiale speurders, die Valke, blitspatrollie, openbare orde polisie, lugvleuel en plaaslike polisie. Die Valke wat die toneel oorgeneem het, het ten tye van die beriggewing nog nie op navrae van WeskusNuus reageer nie. Hul kommentaar sal bygevoeg word sodra die ontvang word.





