Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se Kaapstad-mans-streekskompetisie, die Holywood Bets-liga, is stadig nader aan die einde met nog net vier wedstryde oor.
Soos dinge nou staan, lyk dit of Vasco da Gama die streek in die promosie-uitspeelwedstryde om die ABC-Motsepe-liga teen die ander vyf streekwenners gaan uitspook. Met ses ligapunte as voorsprong voor hul naaste teenstaander, Cape Town City FC, gaan hulle nie maklik ingehaal word nie.
Jomo’s Power AFC verteenwoordig die Atlantis LFA in die Safa- Kaapstad- Hollywood Bets mans-streeksliga (3de liga) en het die jaar op ’n hoë noot afgeskop toe hulle Ocean View AFC met 4-1 op 13 Januarie geklop en na die sesde posisie opgeskuif het. Hulle het egter die pad byster geraak en ná 30 wedstryde na die 11de plek gedaal. Lonn Van Graan se Blouspan het dit nie altyd goed gehad nie, want verskeie uitslae het nie altyd in sy guns getel nie. Sy jong span het egter die laaste paar wedstryde tot hul potensiaal begin speel en die druk met uitstekende oorwinnings verlig. In dié tydperk het Van Graan se Blouspan karakter gewys en vier van die topvyf-spanne Vasco da Gama (1-0), Crystal Palace (3-2), Saxon Rovers (2-2) en Matroosfontein (2-1) op Saxonsea geklop en gewys hulle is steeds ’n faktor in die kompetisie.
Die laaste 10 dae het hulle vyf wedstryde uit agt wedstryde oortuigend gewen, waarvan drie wegwedstryde was.
Jomo’s Power AFC is een van die topspanne van die Atlantis-sokkervereniging vir die laaste 15 jaar, maar kry nie altyd genoeg ondersteuning van die plaaslike sokkergemeenskap in Atlantis en plaaslike klubs nie.
Die span was die naweek (20 en 21 April) in twee wedstryde betrokke teen Greenwood Athletics tuis en AFC en FC Houtbaai weg. Jomos het in sy tuiswedstryd vasgeval maar FC Houtbaai in dié se agterplaas met 2-1 gelooi.
Verlede naweek het hulle teen Cape Town City FC, wat die tweede posisie beklee, met 1-3 vasgeval, en ’n klipharde wedstryd wag op die kaptein, Keaton Rossouw, en sy span in hul voorlaaste tuiswedstryd.
Jomo’s Power sal graag wil opmaak vir hul verloor van 2-1 in die eerste ronde teen die Citizens en hoop om dit met die plaaslike sokkerondersteuners se steun dit reg te kry.




