Wat daar gebeur het, sal seker saam met die twee na hul grafte geneem word. Maar die hartseer en leemte wat die tragedie gebring het, is blywend.
Atlantis en Mamre is in rou gedompel met die dood van ’n polisieman en die vermeende verdagte wat vir sy dood verantwoordelik is.
Sers. Adian Mahoney (44) is Woensdag 17 April op die toneel dood nadat hy na bewering in ’n struweling met die vermeende verdagte, Justin Pick, was. Volgens die polisie het Mahoney en sy kollega ’n klagte van gesinsgeweld in Klapmutsstraat, Mamre, gaan bywoon toe hy met sy eie dienspistool doodgeskiet is.
Brig. Novela Potelwa, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê Mahoney het na bewering sy kollega gevra om by die agtervenster te wag net ingeval die verdagte probeer ontsnap. Die verdagte en Mahoney was vermoedelik in ’n struweling betrokke toe twee skote afgevuur is en die polisieman se dood veroorsaak het. Die verdagte het te voet en met Mahoney se dienspistool van die toneel af gevlug.
’n Grootskaalse soektog met lede van die honde-eenheid, perde-eenheid, provinsiale speurders, die Valke, blitspatrollie, openbare-orde-polisie, lugvleuel en plaaslike polisie is van stapel gestuur. Pick, ook bekend as Honger en wat gesoek is in verband met Mahoney se dood, is die volgende dag ná ’n uitgebreide soektog deur die nag deur die polisie doodgeskiet. Die twee se dood het meer vrae as antwoorde gelaat en inwoners het die polisie op sosiale media vir hul optrede veroordeel.
Inwoners het gemengde gevoelens gehad en baie voel dit kon gemoedsrus bring as Pick die geleentheid gehad het om sy kant te stel.
’n Gedenkdiens en kranslegging is Woensdag 24 April vir sers. Mahoney gehou. Lees meer op bl.?2


