“Hy het sy land beskerm. Hy het sy gemeenskap beskerm. En vandag staan ons hier om hulde aan hom te bring.”
Dít was die woorde van provinsiale polisiehoof, lt.genl. Thembisile Patikele, tydens die roudiens van die ontslape sers. Adian Mahoney.
“Wat het hy gedoen om dit te verdien? Sy plek om die kostafel sal vir ewig leeg wees en Atlantis het ’n held verloor,” het Patikele gesê.
Die polisiehoof het sterk uitgevaar teen die aanval op polisielede en gesê ’n aanval op die staat sal nie geduld word nie en die polisie sal teen dié wat hulle daaraan skuldig maak, optree.
Patikele het ook die oorledene se familie bedank dat hulle hom met die polisie gedeel het.
Regan Allen, die Wes-Kaapse minister vir polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, het Mahoney se familie bemoedig dat hy net sy werk gaan doen het.
“Hy het iemand wat in die nood was, probeer help en het nooit teruggekeer na sy werk en familie nie.”
Allen sê ook dít wat gebeur het, was nie omdat die polisie nie reg opgelei is of dat hy nie gereed was of nie voorbereid was nie; dit was egter omstandighede buite sy beheer. “Gesinsgeweld is die nuwe pandemie in Suid-Afrika en sers. Mahoney het juis iemand in nood te hulp gesnel,” het hy gesê.
Die afgetrede kapt. Pietie Erasmus, sers. Mahoney se voormalige skofleier, het gesê: “Hy was jou “go to man” en het nooit geskroom om sy werk met integriteit te doen nie. Hy was een van die skoonste polisiemanne wat ek ken en dit was eenvoudig net ’n plesier om saam met hom te werk.”
Erasmus het emosioneel vertel dat Mahoney altyd eerste by die werk was en hy het altyd geweet wanneer hy aangemeld het.
“Daar was net iets in sy stap wat niemand kon naboots nie, want as ek die voetstappe gehoor het, dan het ek geweet dit is hy wat aankom en ek was elke keer reg. Hy het gelewe vir sy werk en familie. Ek kan net dink as ek só trots was om hom deel van my span te kon hê, hoe trots was sy familie nie op hom nie.”
Glaudine Smith van die Atlantis-gemeenskapspolisieforum het in haar boodskap gesê Mahoney was eerstens ’n pa, eggenoot en familieman, en dan ’n polisieman. “Ek kon sien hoe trots hy op sy familie was – veral sy vrou en kinders was sy alles.”
Volgens Memanie Mhambi van die polisie-vakbond Popcru het sy Mahoney in 2007 by die Atlantis-polisiekantoor ontmoet. “Ek onthou hom as ’n saggeaarde, stil polisieman toe hy by die unie aangesluit het. Hy het in sy jare nie een keer by my aangeklop vir raad of ander bystand nie. Hy was eenvoudig net ’n goed gedissiplineerde polisieman.”





