Gaylin Swartz van die Atlantis-vaardigheidskool en Romeo Andrews van Proteus Hoër Tegniese skool het die dorp trots gemaak toe hulle goud en brons in die 800 m, 1500 m (meisies o.15) en 200 m (seuns o.19) by die Suid-Afrikaanse hoër- en vaardigheidskole op die Dal Josafat-stadion in die Paarl gewen het.
Weskus Nuus het met Swartz, Andrews en Liam Okkers oor hul prestasies in die SA kampioenskap gaan gesels.
Swarts het vertel sy was baie senuweeagtig in haar wedlope.
“My afrigter Daniel Adonis, my moeder Berenice, en Zhanley Sauls, een van my onderwysers, se ondersteuning voor die kampioenskap het my geïnspireer om goed te doen. Die skare se ongelooflike ondersteuning op die Dal het my aangehits om my droom te bereik as kampioen in die 800 m en 1500 m. My inspirasie kom egter van die Springbok-rugbyspeler Brian Habana af. Sy spoed en vernuf en deursettingsvermoë om te presteer, het my aangemoedig,” het Swartz aan Weskus Nuus gesê.
Andrews het in die 100 m- en 200 m-naellope vir seuns o.19 deelgeneem en geglo hy kan onder die topdrie-atlete in die SA kampioenskap eindig.
“My persoonlike tyd van 21,04 sekondes is beter as my 21,58 by die SA kampioenskap, maar ek is deur ’n kampioen geklop, wat gebruik gemaak het van die geleentheid op die dag, en dit is wat jou ’n kampioen maak,” het Andrews gesê.
Okkers glo hy sal binnekort sy droom in die 10 000 m stap bereik.
“ ’n Paar tegniese aanpassings behoort my te help om bo uit te kom. Dit was ’n ongelooflike ervaring om aan die SA hoërskole-atletiekkampioenskap deel te neem en ek kan dit steeds nie glo nie, maar ek is trots op my prestasie en moedig jonger atlete aan om ook groot te droom,” het die skaam seun aan Weskus Nuus gesê.
Die Atlantis- primêre skoleatletiek-byeenkoms het drie atlete vir die Wes-Kaapse span opgelewer, maar in die kampioenskap nie goed gevaar nie.
Krediet moet aan die atlete, Gary Markus (Wes-Kaap-spanbestuurder) en Denzil (afrigter) van Saxonsea Primêr, en ander afrigters gegee word, wat die dorp op nasionale vlak verteenwoordig het.
Melchoir Petersen (Reygersdal Primêr) het die Atlantis-primêre- en sekondêre skole op nasionale vlak as aankondiger verteenwoordig, wat nog ’n prestasie vir die dorp is.


