Atlantis se nuwe polisiehoof, kol. Mario Thyse, is ’n “man on a mission”.
“Hier gaan ons hande vat en die gemeenskap dien,” was sy eerste woorde aan die koerant.
Thyse, wat die afgelope twee jaar die Vispol-hoof van die Atlantis-polisie was, is op 1 Mei tot kolonel bevorder en ook as die nuwe stasiebevelvoerder aangestel. “Baie gaan nou verander, of lede daarvan hou of nie. Ons gaan die polisie se gedragskode en grondwet eerbiedig, want Atlantis verdien beter,” het hy gesê.
“Ek het in ’n arm huis in ’n arm gemeenskap grootgeword en gesien hoe mense behandel word. Dit gaan nie langer hier geduld word nie,” vertel die nuwe polisiehoof. “Die hoeveelheid klagtes wat ek as Vispol-hoof gekry het, het as ’n maatstaf vir my gedien, en net omdat hier baie werkloosheid is, beteken nie lede kan die gemeenskap dien asof hulle niks is nie,” vertel hy.
“Die vertroue tussen die polisie en gemeenskap moet herstel word en inwoners moet die vrymoedigheid hê om inligting met ons te deel,” vertel hy.
Thyse het beklemtoon dat sy deur oop sal bly vir die gemeenskap en vra dat hulle hom persoonlik moet kom sien indien hulle ongelukkig is oor die diens wat hulle kry.
“Atlantis en sy gemeenskap het diep in my hart gekruip omdat dit my baie aan my kinderdae laat dink,” vertel hy. “Daarom is dit belangrik dat die polisie inwoners met respek sal behandel ongeag mense se omstandighede. Inwoners moet trots op die polisie word en daarom gaan ek baie op etiese gedrag fokus,” het hy afgesluit.





