Dié man is deur die polisie aangerand en vir dood in die bosse gelaat.


Die polisiebeampte wat net gestaan en toekyk het terwyl haar kollegas ’n vermeende verdagte skop, slaan en selfs skote op hom vuur, is aangekeer en word nou saam met hulle aangekla.

’n Derde lid is onlangs deur die Onafhanklike polisie-ondersoek-direktoraat (Opod) in hegtenis geneem en op R20 000-borgtog vrygelaat.

“Hulle verskyn op aanklagte van ontvoering en poging tot moord, het kapt. Lisa Munro, ’n polisie woordvoerder, bevestig.

Die lede het vermoedelik – nadat verskeie kere by lede se motors op die polisieperseel ingebreek is – besluit om die reg in eie hande te neem. Hulle het – nadat een se motorbattery gesteel is – glo drie verdagtes in Neptune Castle gaan haal en na die nywerheidsgebied gery. Die lede, van wie een net gestaan en kyk het sonder om haar twee kollegas te keer, het glo op die man geskiet om hom af te skrik in die hoop dat hy sal sê waar die battery is. Hy is in die been getref, verder aangerand en vir dood in die bosse gelos.

Die voorval, wat op 14 November verlede jaar plaasgevind het, het die dorp omtrent in rep en roer gehad en baie inwoners voel geregtigheid moet geskied. Volgens die pa van die jong man, wat weens vrees vir intimidasie nie sy naam genoem wil hê nie, is hy baie ongelukkig dat die polisie, wat veronderstel is om mense te beskerm, die reg só in eie hande geneem het.

Die twee lede, wat steeds werk, is volgens ’n betroubare bron intern met twee maande se salaris beboet. Die derde verdagte se interne verhoor sal binnekort begin. Die drie het Dinsdag 21 Mei verskyn en die saak is uitgestel tot 23 Julie en is na die streekhof oorgeplaas.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article