Marisha Isaacs vertel hartseer hoe hulle as familie oor haar vermiste broer voel

Murphy Roberts

“Hulle is nie eerlik met ons nie.”

Dít is die woorde van Marisha Isaacs, suster van die vermiste Johnwill Isaacs. Volgens Marisha was daar beslis iets fout en die feit dat haar broer steeds vermis word en niemand antwoorde kan gee nie, maak hulle krapperig.

Marisha sê ook dat die soektog langer kon aangehou het en dalk die ander se lewe kon red.

“Wat ons as familie omkrap, is dat die soektog reeds die volgende dag vermoedelik weens onstuimige weersomstandighede afgelas is.”

LEES OOK | Bootramp: Families nog verslae

Marisha het ook uitgevaar teenoor die maatskappy vir wie haar broer gewerk het. Marisha vertel terwyl die trane oor wange stroom: “Ons moes self Vrydag plan maak om in die hawe te kom terwyl ander families met maatskappyvervoer gehaal is. Ons is ook van die laastes wat moes hoor dat die minister [van bosbou en vissery] Woensdag families gaan ontmoet. Ons wag nou nog op inligting.”

Sy meen sy weet egter hoekom haar familie in die duister gehou word.

“Ons vra vrae wat hulle ongemaklik maak en ek glo daarom word ons uitgesluit. Ek glo geduld kon ’n groot verskil gemaak het, maar niemand kan regtig vir ons verduidelik hoekom die soektog so gou afgelas is nie.

“Ons wil hom graag met die waardigheid van ’n seeman begrawe en net die tyd sal leer of dit wel sal kan gebeur,” vertel sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article