Jeffrey Lee, wat die afgelope 27 jaar Delmarie se lewensmaat was, met Delmarie se doodsertifikaat. Lee sê niemand het nog ooit kom vra om die doodsertifikaat te sien nie en het dit vir die eerste keer uitgehaal om aan Weskus Nuus te wys.Foto: Murphy Roberts


“Ek kon nie in my wildste drome dink mense kan só laag en gemeen wees nie.”

Dit is die woorde van wyle Dalmarie Solomons se dogter, Caylin Solomons, nadat haar ma die afgelope twee weke op sosiale media as “nog ’n Thabo Bester” uitgemaak is omdat sy kwansuis haar dood “gefake” het.

Solomons is op 5 Januarie skielik in die Wesfleur-hospitaal oorlede.

Volgens gerugte op sosiale media het Solomons vir versekeringsbedrog voorgegee sy is dood terwyl ander wyd bespiegel het sy is vir bedrog gesoek.

Gerugte het die afgelope twee weke ’n nuwe draai gemaak toe bespiegel is sy het in Namibië gaan skuil totdat sy die geld sou kry en die stof gaan lê het. Gerugte lui ook sy het haar as haar “tweelingsuster” wat kom kuier het, voorgedoen het.

Volgens haar dogter het die stories reeds op 13 Januarie begin op die dag wat haar ma begrawe moes word. “Mense wat gereeld aan ons deur kom klop het vir ’n brood of iets vir die pot en voorgegee het hulle is vriende van my ma, het gehelp om die stories versprei,” vertel sy.

’n Emosionele Caylin vertel hulle weet wie die stories versprei het en sê sy weet nie hoekom dié familielid dit doen nie.

Volgens Alfonso Solomons, Delmarie se broer, het hy persoonlik die familielid gaan konfronteer nadat ’n vriend hom daarvan vertel het. Hy het eenvoudig net gesê die mense is mal en weet nie waarvan hulle praat nie.

“Ons familie moes intussen soos kluisenaars lewe omdat ons te bang is om uit te gaan,” vertel Caylin.

Volgens Jeffrey Lee, wat die afgelope 27 jaar Delmarie se lewensmaat was, het die stories baie skade aan Delmarie se reputasie gedoen.

“Wat my die seerste maak, is dit is mense wat ons gedink het vriende van haar is.”

Volgens Lee kon mense net kom vra het wat verkeerd gegaan het, maar eerder gekies het om haar naam deur die modder te sleep, vertel hy emosioneel.

Lee vertel alles het begin nadat hulle haar weens verskeie redes nie op die beplande datum kon begrawe nie.

“Daar was finansiële redes, maar die grootste was dat hulle nie die gat in Darling betyds kon regkry nie.

“Ons was onder geweldige druk omdat ons nie genoeg geld gehad het om haar te begrawe nie,” deel hy.

“Ons het wel ’n gedenkdiens vir haar gehou en die liggaam moes terug na die ondernemer toe,” vertel hy.

Die familie vertel dat hulle vrede gemaak het met die stories en sê mense kan voortgaan met hul “skindergoed” aangesien “hulle niks beter het om te doen nie”.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie niemand met die naam Delmarie Solomons op klagtes van bedrog in hegtenis geneem nie en geen sake word volgens hul stelsels teen so iemand ondersoek nie.

Natalie Watlington van die departement van gesondheid het ook aan Weskus Nuus bevestig ’n pasiënt wie se besonderhede met dié van Solomons ooreenstem, het wel op 5 Januarie aan natuurlike oorsake in die hospitaal gesterf.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article