Mamre se dissipline het hom Saterdag lelik in die steek gelaat en hy kan dit later berou. Die groen truie van Kenny Stadler het Saterdag in Saldanha 32-35 vasgeval nadat hulle rustyd 12-17 agter was.
Mamre, wat die tuisspan in die eerste kwart van die wedstryd goed onder beheer gehou het, het ook die tuisspan in die skrums onder druk gehad. Die tuisspan kon in dié tyd nie veel uitrig nie, maar die wedstryd het verander toe Mamre weens swak dissipline met 14-man oor die weg moes kom.
Saldanha het die besoekers se geelkaart tot sy voordeel gebruik en nog 12 punte bygevoeg om 17-0 voor te loop. Die tuisspan het egter ook ’n geelkaart gekry en Mamre het voordeel daaruit getrek en ook 12 punte aangeteken. Die twee spanne het gaan water drink met die telling 12-17 in die tuisspan se guns.
Mamre, wat die wedstryd moes wen om sy kanse lewendig te hou en ook om ’n plek op te punteleer te styg, het egter in die tweede helfte soos mis voor die son verdwyn toe die span sy tweede geelkaart ontvang het.
Saldanha het weer seker gemaak hy slaan munt en het 15 punte aangeteken. Mamre, wat ná sy tweede geelkaart 17-32 agter was en met die tuisspan stert in die lug, het egte karakter en veggees getoon.
Die groen truie se wil om te wen het sterk na vore gekom en die span het daarna die Saldanha-stadion stil gespeel en met drie minute speeltyd oor was sake gelyk. Met die telling 32 elk kon enige van die twee spanne met ’n oorwinning wegstap, maar die groen truie se dissipline het egter die tuisspan se oorwinning met ’n strafskop help verseker. Saldanha, die voormalige Boland-kampioen, het met dié oorwinning ook weer die eerste plek op die punteleer ingeneem. Die nederlaag het die troepe van Stadler een plek laat terugsak en is nou in die agtste plek op die punteleer. . Die wedstryd tussen Young Hearts en St. Helenabaai op die grafkelder moes egter weens die veld se toestande uitgestel word. Paternoster het met sy oorwinning in Hopefield na die tweede plek opgeskuif. Velddrif het met sy oorwinning in Langebaan ook twee plekke opgeskuif.
- Saldanha 35-32 Mamre, Langebaan 25-33 Velddrif, Hopefield 20-21 Paternoster. Swartland
- Abbotsdale 27-25 Goodhopes, Darling 41-19 Riebeeck United, Moorreesburg 29-24 Never Despairs, Villagers Wittewater 24-45 Porterville en Wesbank 49-17 Saron
- Atlantis het op sy tuisveld Gardens met 40-22 in die twee spanne se WP-Superliga C-wedstryd geklop. Hamlets het op sy tuisveld met 20 elk gelykop teen Strand gespeel in die twee spanne se WP- Superliga B-wedstryd.


