Sedert die aanvang van die gruwelike Coronavirus-pandemie in 2020, het dit nie net die planeet geskud nie, maar ook gesinne getraumatiseer deur geliefdes met ’n koue hand van die dood weg te ruk.
Families en sportspanne, soos Robinvale Spurs FC, is steeds getraumatiseer deur die pandemie, maar dit het Spurs geïnspireer om met positiewe-inisiatief-programme te begin om ’n verskil in hul gemeenskap te maak.
Robinvale Spurs FC is ’n organisasie sonder winsbejag verbonde aan die Atlantis- plaaslike sokkervereniging, wat die afgelope drie jaar saam met die T&G-sokkerskool in Robinvale werk om die gemeenskap deur middel van voedings- en sportontwikkelingsprogramme op te hef.
Volgens die klubpresident, Jerome February, is ’n geldinsameling- vergadering onlangs vir projekte wat vir Augustus en September beplan word, gehou.
“Ons glo dat ons sport- en voedingskema-programme ’n verskil in die lewe van jongmense sal maak en hulle in staat sal stel om bo hul omstandighede uit te styg,” het February gesê.




