Die Swartland-munisipaliteit, Weskus-rampbestuur, nie-regeringsorganisasies en verskeie regeringsdepartemente het hulle Donderdagoggend (8 Augustus) na die ramptoneel in Riverlands (Dassenberg) gehaas om die nodige ondersteuning te bied nadat drie damwalle vroegoggend meegegee en tot grootskaalse oorstromings gelei het.
Met nie-regeringsorganisasies en organisasies sonder winsbejag wat die nodige hulpbronne en noodverligtingspakkies uitgedeel het, word dringend na die toestand van ’n vierde dam gekyk, het die Swartland-munisipaliteit bevestig. Die munisipaliteit het in ’n verklaring gesê dat vrese vir nog oorstromings ontstaan het. Volgens die verklaring word water as voorsorgmaatreël uit die dam gepomp.
Die drama volg nadat inwoners van Riverlands (Dassenberg) Donderdagoggend vroeg deur ’n watermassa wakker geskud is en honderde dakloos gelaat is. Volgens die munisipaliteit is omliggende gebiede tans sonder water en elektrisiteit weens die watervloed.
Die damme wat in die grense van die Stad Kaapstad is, is egter in private besit.
Die Swartland-munisipaliteit het bevestig dat ’n vierde dam tans stabiel is, maar gereeld gemonitor word. Volgens die verklaring het 444 inwoners noodbystand ontvang terwyl 224 inwoners in kerke en die Thusong-sentrum gehuisves word.
Die munisipaliteit het ook bevestig dat dit nie nodig was om die gebied te ontruim nie, en drinkwater word met behulp van die Drakenstein- en distriksmunisipaliteite aan inwoners voorsien terwyl opruimingswerk voortgaan.




