Inwoners van Riverlands (Dassenberg) is Donderdag in die vroeë oggendure deur ’n watermassa wakker geskud nadat twee damwalle in duie gestort het. ’n Derde damwal het ook later die dag meegegee. Hoewel dit ’n groot tragedie is, kon dit baie erger gewees het, het die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell gesê.
Bredell het gesinne wat byna alles verloor het, bemoedig en verseker dat die Wes-Kaapse regering en plaaslike owerhede baie hard en vinnig sal werk om inwoners se lewens weer na normaal te laat terugkeer. Die tragedie, wat ongeveer vyfuur die oggend gebeur het, het 14 mense in die hospitaal laat beland met geen noodlottige voorvalle nie, het sers. Henry Du Randt, ’n polisiewoordvoerder, bevestig.
Du Randt sê ’n soek- en reddingspan is saamgestel om die gebied te fynkam. “Met huise in die meer landelike deel van die gebied wat heeltemal verwoes is, is ongeveer 50 families dakloos gelaat terwyl vele ander ernstige skade aan hul huise opgedoen het.”
Terwyl baie inwoners verbaas rondgesoek het na van hul besittings, het verskeie diere en motors in die slag gebly. Die spoorlyn wat deur die dorp loop, het ook verspoel. Dit was ’n voorval “wat gewag het om te gebeur”, het een inwoner aan die koerant vertel.
“Met die swaar reënval die afgelope weke moes die plaaseienaar die nodige maatreëls ingestel het.”
Hy vertel dat ’n pa byna sy twee kinders weens die oorstromings verloor het, maar vinnige optredes het egter ’n tragedie verhoed. Inwoners wat alles verloor het, was nog te getraumatiseerd om met Weskus Nuus te praat.
Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, het inwoners verseker ’n deeglike ondersoek na die ramp sal gedoen word en gesê sy departement is reeds besig met ’n opname. Nog op bl.2





