Inwoners van die Covid-informele nedersetting, wat ongelukkig is met dienslewering, het Dinsdag 30 Julie behoorlik amok gemaak en miljoene se skade veroorsaak toe twee vragmotors uitgebrand en verskeie ander beskadig is.
Die groep inwoners wat ongelukkig is oor elektrisiteit, water en toilette, het egter eers die twee vragmotors gestroop voordat dit uitgebrand is. Die een vragmotor, wat vol nuwe duur yskaste was, is ook leeggedra.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het lede dié aand op klagtes van openbare geweld reageer.
Munro sê die polisie het met hul aankoms reeds gesien dat die twee vragmotors in ligte laaie was.
Die vinnige optrede van die lede het ook verskeie yskaste teruggevind en twee verdagtes is aangekeer, bevestig Munro. Verbygangers het kopskuddend vertel dat baie van die mense wat die yskaste van die vragmotor af weggedra het, dit wou verkoop. Een bestuurder van ’n motor vertel ook dat die vragmotor in ’n rekordtyd leeggemaak was.
“Wat egter kommerwekkend is van die voorval is dat mense betoog vir elektrisiteit, maar vat elektriese voorraad – wat hulle waar wil gebruik; sonder elektrisiteit?” het een verbyganger uit sy motor geskree. “Dit lyk asof dit net eenvoudig misdaad was en niks met dienslewering te doen het nie,” het nog ’n vrou uit haar motor gesê.
Volgens Munro word verskeie klagtes van diefstal, opsetlike saakbeskadiging en openbare geweld ondersoek. Sy het bevestig dat die meeste van die yskaste steeds soek is.
Volgens die wyksraadslid Moosa Raise is die optrede van die betogers onaanvaarbaar en is dit misdaad wat niks met dienslewering te doen het nie.
Raise het weer beklemtoon die Stad kan nie dienste op private grond verskaf nie omdat dit die verantwoordelikheid van die grondeienaar is. Volgens Raise wou die Stad die grond by die eienaar koop, maar gretigheid het ’n stokkie daarvoor gesteek.




