Pastoor Nico Pieters, Delores Bergman (86), Roseline Goodall (86), Madge Adams (78), Amelia Martin (76), Jeanett Davids (76), Henriette Liedeman (75), Marie Erasmus (75), Caroline Scheepers (74) en Amelia Pieters (voorsitter).


Women on the Move for Christ het Saterdag 27 Julie ’n Kersfees in Julie– ete vir sowat 100 bejaarde inwoners van Atlantis en Mamre by die Uitbreiding 12-gemeenskapsaal gehou.

Ten spyte van die swaar reën en swak weerstoestande wat die streek die laaste paar weke ondervind het, het talle senior burgers steeds die geleentheid bygewoon.

Women on the Move for Christ is in 2019 gestig en volgens Amelia Pieters (voorsitter) is hul hoofdoel om ’n impak op die lewe van Atlantis-inwoners en aangrensende dorpe te maak – veral onder bejaardes.

Ten spyte van hul aanvanklike stryd weens ’n gebrek aan finansiering het die organisasie uitdagings oorkom en in vier jaar ’n florerende organisasie geword.

Pastoor Nico Pieters van die Atlantis Christian Fellowship het ná sy openingsgebed en boodskap ’n storie van ’n bejaarde vrou van ouer as 70 jaar met die gehoor gedeel. Hy het vertel ’n televisieprogram het eendag sy aandag geboei terwyl ’n joernalis ’n onderhoud met die bejaarde gevoer het.

Sy het haar lewensverhaal aan die joernalis gedeel, en hy was baie beïndruk en vra haar toe as sy op haar lewe terugkyk, wat sou sy nie gedoen het nie. Sy was spyt dat sy getrou het, was haar onverwagse reaksie.

Pastoor Pieters het na verhale van Abraham wat sy seun geoffer het, Kain en Abel wat dieselfde erfenisse gekry het, en Sarah, wat op 90-jarige ouderdom ’n kind gebaar het, verwys.

Volgens Pieters is materiële besittings nie altyd goed nie aangesien dit families kan vervreem, en daarom is dit belangrik dat ons nie aan aardse dinge moet vasklou nie, het hy gesê. “Dit is beter om eerder ’n nalatenskap agter te laat wat duisende jare deur familielede of gemeenskappe onthou sal word, in plaas daarvan dat familielede oor ’n erfporsie vervreem word.

Die gaste is met ’n driegang-middagete bedien en met danspassies en Kersmusiek vermaak.

Weskus Nuus het met twee bejaardes – Cathleen van der Merwe (60) van Mamre en Roseline Goodall (86) – oor hul verbintenis tot die geleentheid gesels. “Ons is na die seremonie genooi, en om dit by te woon is eenvoudig goeie maniere. Wat my egter werklik ontroer het, was pastoor Pieters se storie, wat my geïnspireer het om ’n nalatenskap vir jou gesin of gemeenskap te skep,” het Van der Merwe gesê.

Goodall, wat een van die oudste bejaardes by die saamtrek was, sê dit was iets mooi en hulle as bejaardes het dit opreg waardeer.

Volgens van der Merwe was die middagete uitstekend en “pastoor Pieters het ons ook geestelik gevoed”.

Die organisasie bedank alle skenkers wat die dag moontlik gemaak het. “Meer as 40 bejaardes het weggestap met pragtige geskenke en geskenkbewyse wat deur plaaslike ondernemings geskenk is. Ook die primêre borg, JP Accounting Services, wat ons altyd ondersteun en die Stad Kaapstad se departement van sport en ontspanning van Atlantis, wat die gemeenskapsaal beskikbaar gestel het vir die geleentheid,” het die organiseerders hul bedank.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article