Malusi Booi, ’n voormalige burgemeesterskomitee-lid vir behuising, is enkele dae nadat hy fase twee van die Kanonkop- behuisingsprojek geopen het, geskors nadat bewerings van bedrog en korrupsie die ronde gedoen het.Foto: Murphy Roberts


Die voormalige burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings, Malusi Booi, wat in Maart verlede jaar geskors is, is op Maandag 9 September in die Oos-Kaap in hegtenis geneem op aanklagte van tenderbedrog en korrupsie van meer as R1 miljard.

Booi, wat in Maart 2023 tydens die amptelike bekendstelling aan die Kanonkop- fase 2-behuisingsprojek die uitlating gemaak het dat hulle “nie met terroriste onderhandel nie” en daardeur glo ’n boodskap aan die konstruksiemafia wou stuur, is enkele dae daarna geskors nadat sy kantoor die vorige dag deur die polisie deursoek en op drarekenaars, selfone en dokumente beslag gelê is wat met beweerde tenderbedrog verband hou.

Booi is op 9 September amptelik in verband met hierdie aanklagte in hegtenis geneem en is op 17 September op borgtog van R250 000 vrygelaat. Hy het aanvanklik in sy borgtogaansoek gevra dat borgtog van R5 000 toegestaan word, maar dit is van die hand gewys.

Hy en sy agt mede-beskuldigdes moet weer op 16 Oktober in die Kaapse hof verskyn.

Die groep beskuldigdes sal op altesaam 15 aanklagte verskyn, wat dalk kan verander namate die ondersoek vorder. Die inhegtenisnemings volg nadat agt van die Stad Kaapstad se behuisingsprojekte aan drie maatskappye toegeken is.

Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), gaan nog twee verdagtes by die saak gevoeg word.

Volgens ’n betroubare bron het Booi vermoedelik meer as ’n miljoen rand kontant van ’n bekende bendeleier vir die tenders ontvang.

Die burgemeester van die Stad Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, het Booi se skorsing destyds bevestig en gesê hy sien die klopjag in ’n ernstige lig en moet die integriteit van sy regering beskerm. Die burgemeester het in sy verklaring gesê die Stad sal sy volle samewerking aan die polisie tydens die ondersoek verseker omdat die Stad ’n nul-verdraagsaamheid-benadering tot bedrog en korrupsie het.

Hy het ook beklemtoon as burgemeester sal hy nie skroom om in die belang van ’n goeie en skoon regering op te tree nie.

Landdros Alida Theart het tydens haar borgvoorwaardes aan Booi, wat toegelaat is om na die Oos-Kaap terug te keer, gesê dat hy nie die Oos-Kaap mag verlaat sonder om die ondersoekbeampte in kennis te stel nie en mag nie die land verlaat terwyl die hofsaak aan die gang is nie. Die beskuldigdes het hul paspoorte ingehandig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article