Honderd leerders het Woensdag 18 September na verskeie sprekers geluister tydens die eerste Atlantis-gemeenskapsforum-leierskapsberaad in die Rebecca van Amsterdam-saal.Foto’s: Murphy Roberts


Die bemagtigingsprojek vir Jeugleiers wat Woensdag 18 September met ’n jeugberaad en werksessie in Atlantis begin het, het nie teleurgestel nie.

Volgens Frits Buter, organiseerder en sameroeper van die projek, was dit baie emosioneel toe die leerders van die vier verskillende skole die volkslied uit volle bors gesing het. “Dit was reeds vir ons as die organiseerders ’n teken dat verskil moontlik is en nie almal bendelede wil wees nie.”

Die leerders wat almal die erekode geteken het, is deur Heindrich Wyngaard van Kaapse Forum, prof. Erwin Schwella van CariBuntu en dr. Braam Hanekom van die Hope & Reconciliation Trust en verskeie ander sprekers toegespreek. Volgens Buter is veral klem gelê op identiteit, morele waardes en etiese leierskap en entrepreneurskapsvaardighede, en die opgewondenheid onder die leerders kon nie misgekyk word nie.

“Ons weet sulke werksessies kan gou vergeet word, en vir dié rede gaan ’n sosialemediagroep geopen word,” vertel Buter. “Ons is ook van plan om hierdie soort sessies op ’n gereelde grondslag te hê en die leerlinge sal vir die volgende twee jaar gemonitor word,” het hy gesê.

Buter, ’n afgetrede polisiebeampte, het ook gesê die forum het reeds met oudskoolhoofde, afgetrede dosente en sielkundiges gepraat, wat almal bereid is om gratis of teen ’n klein vergoeding Saterdagmiddae en tydens vakansies klas en voorligting aan hierdie leerders te gee.

Buter sê ook verskeie kundiges en deskundiges is in die samelewing en wil hul deel bydra om die land ’n beter plek vir almal te maak, en daarom hoop hulle dat die kennis wat die groep opdoen, tot hul voordeel gebruik kan word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article