Danny Pietersen en Frits Buter tydens die aankondiging van die jeugberaad, wat op 18 September in Proteapark plaasvind.Foto: Murphy Roberts


Die bemagtigingsprojek vir jeugleiers, wat op 18 September 2024 met ’n jeugberaad en werksessie in Atlantis begin, skep groot opwinding onder jeugleiers van die vier Atlantis-hoërskole.

Die doel van die eerste werksessie is om die eerste 100 jeugleiers in Atlantis te help “om keuses te maak sodat hulle ’n positiewe bydrae tot hul persoonlike ontwikkeling, die gemeenskap en die land kan maak”, sê Frits Buter, organiseerder en sameroeper van die projek.

Buter het aan Weskus-Nuus vertel sy eerste interaksie met die jeugleiers van Saxonsea en Atlantis Sekondêr was baie positief en groot belangstelling heers vir die September-beraad. Hy het ook bevestig dat hy binnekort die jeugleiers van die Hoërskool Robinvale en Proteus sal ontmoet.

Buter, in samewerking met die nuut-gestigte Atlantis-gemeenskapsforum, Atlantis Rotariërs en ander rolspelers, werk reeds geruime tyd aan die jeugbemagtigingsprogram.

Volgens Buter is Gayton McKenzie, die minister van sport, kuns en kultuur gevra om die openingstoespraak by die geleentheid te lewer, wat in die Rebecca van Amsterdam-saal sal plaasvind.

Buter het voorts gesê Heindrich Wyngaard van Kaapse Forum, prof. Erwin Schwella van CariBuntu en dr. Braam Hanekom van die Hope and Reconciliation Trust sal ook by die beraad wees en verskeie interaktiewe sessies lei wat oor ’n wye reeks onderwerpe strek – van identiteit, morele waardes en etiese leierskap tot entrepreneurskapsvaardighede.

Gesprekke sal ook plaasvind oor hoe om te midde van moeilike omstandighede te kies om ’n positiewe ingesteldheid vir die toekoms te ontwikkel, het hy verduidelik.

Volgens dié afgetrede polisiekolonel wil hy graag ’n positiewe bydrae tot die ontwikkeling van die jeug lewer.

“Ek was 27 jaar in die polisie en wil as ’n sakeman wat ’n suksesvolle private sekuriteitsmaatskappy bedryf het, my kennis en vaardighede aanwend om die jeug te help bemagtig.

“As Bloubergstrander stel ek besonder belang in die wel en weë van die groter Atlantis-gemeenskap,” het Buter gesê.

Ná gesprekke met Wyngaard, Schwella en Hanekom het hy kontak gemaak met Danny Pietersen van die Atlantis-gemeenskapsforum en die skoolhoofdeforum, en die program saam ontwikkel.

Die jeugleiers sal tydens die middagete gevra word om hulself tot ’n erekode te verbind wat na afloop van die verrigtinge in ’n sertifikaatraam aan elkeen oorhandig sal word.

Buter sê hy besef ’n enkele werk­sessie sal nie ’n blywende uitwerking op die gemeenskap en leerders hê nie. Daarom is die gedagte dat die jeugontwikkelings­program verdere sessies oor die volgende jaar sal insluit om seker te maak die gemeenskapsforum kan die jeugleiers verder ondersteun en bemagtig.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article