Atlantis-minibus-taxi-eienaars is besig om “hul huis in orde te kry”, sê die voorsitter, Jonathan Anderson, en daarom het hulle besluit om by Codeta aan te sluit.
Codeta-lede van so ver as Ceres, Grabouw, Vredenburg, Saldanha, Mfuleni, Langa Vrygrond, Somerset-Wes, Sir Lowries Pass en Nyanga het die bekendstelling Woensdag 21 Augustus in Atlantis bygewoon.
Volgens Anderson is hulle reeds die afgelope vier jaar in gesprekke met Codeta en Kata om erkenning te kry.
“Ons moes net eenvoudig by ’n organisasie aansluit,” verduidelik hy –”om vir beskikbare roetes aansoek te doen”.
“Dit was egter nie ’n maklike besluit vir ons as bestuur nie aangesien ons ook met die plaaslike Kata-vereniging gepraat het,” verduidelik Anderson.
Volgens Siabonga Mngaka, die streeksvoorsitter van Codeta se werkkomitee, verwelkom hulle Atlantis met ope arms as deel van die familie.
Mngaka het ook verduidelik dat die organisasie Atlantis-eienaars gaan ondersteun en bystaan met die aansoek vir permitte en lisensies.
Anderson het verduidelik dat die plaaslike Kata-vereniging, met wie hulle reeds vyf jaar praat, elke keer vergaderings uitgestel het. “Die plan was dat ons deel van hul roete word, maar daar het dadels van gekom.”
Volgens Eugene Titus, die ondervoorsitter van Atlantis Codeta, sal nou ook dringend met die Avanza-eienaars gepraat word om die orde te herstel. “Die plan is dat weggemaak moet word met die Avanza’s en eienaars sal minibustaxi’s moet aanskaf,” verduidelik hy. “Dit is alles deel van ons plan om beter diens aan inwoners van Atlantis te verskaf,” verduidelik Titus.




