Die drie vermeende rowers wat op Maandag 30 September die Saxonwold-winkel beroof het, is steeds soek.
Volgens kapt. Lisa Munro, polisiewoordvoerder, het die voorval net ná 13:00 gebeur toe drie onbekende mans die winkel ingestap en een ‘n kassier met ’n vuurwapen gedreig het.
’n Bron op die toneel het aan Weskus Nuus vertel dat die roof “wat duidelik baie goed beplan was” baie vinnig gebeur het met die rowers wat binne ’n paar minute te voet van die toneel af gevlug het.
Die bron het ook verklap dat die ander twee rowers met messe gewapen was. Niemand is in die voorval beseer nie.
Dit is ook deur Munro bevestig. Sy het bygevoeg dat geen skote tydens die rooftog afgevuur is nie.
Die eienaars van die winkel, Chinese burgers, wou nie met Weskus Nuus praat nie, maar het laat deurskemer dat dit nie die eerste keer is dat hulle slagoffers van ’n rooftog is nie.
Die verdagtes het ongeveer R50 000 en verskeie pakke sigarette gebuit voordat hulle vermoedelik tussen die huise deur in Witsand op die vlug geslaan en verdwyn het.
Munro het veral met die komende feestyd op hande sake-eienaars gewaarsku om uiters versigtig te wees. Die waarskuwing kom ook na aanleiding van verskeie klein huiswinkels wat die afgelope tyd in die gebied beroof is.




