Drie mans is die afgelope Woensdag (2 Oktober) met byna 100 kg hoëgehalte dagga by ’n vulstasie op die N7 aangekeer.
Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, het die Atlantis- misdaadvoorkomingseenheid blitsig reageer nadat die mans verdag voorgekom het.
Die mans, wat met ’n bus uit Namibia aangekom het, het kliënte van die vulstasie ongemaklik gemaak met hul senuweeagtigheid en die polisie is gekontak, bevestig Munro. Die mans het met die groot sakke ongemaklik tussen vragmotors beweeg, waar die polisie hulle aangetref het.
Volgens Munro het die vinnige optrede van die polisie gekeer dat die mans die toneel met die dagga kon verlaat en sê dit is onbekend of die dagga dalk met ’n vragmotor vervoer sou word. Die dagga is vermoedelik vir Vanrhynsdorp bestem en drie mans is op die toneel aangekeer, bevestig Munro. Die verdagtes word aangekla vir handel in dagga en word by die Philadelphia-polisiekantoor aangehou.





