“Waar sal ons hulp vandaan kom?”
Só het omstaanders geskree nadat vyf mans Woensdagmiddag helder oordag by die stopstraat op die hoek van Ou Mamre-weg en die Silwerstroom-pad afgemaai is.
Die vyf oorledenes was deel van ’n groep wat die dag op Silwerstroomstrand gekuier het. Die groep, wat in twee motors en ’n bakkie gereis het, is vermoedelik by die stopstraat ingewag toe daar op hulle losgebrand is. Vyf mans is doodgeskiet terwyl nog vyf persone gewond is.
Volgens ’n betroubare bron het die groep mans gekuier op die strand en vermoedelik hul dag se aktiwiteite op sosiale media geplaas. Volgens die bron was daar ook kinders in een van die voertuie maar is hulle nie beseer nie, hoewel die gebeure hulle erg getraumatiseer het.
Kol. Mario Thyse, stasiebevelvoerder, sê die voorval blyk om bende-verwant te wees. Geen verdagtes is teen Donderdagoggend nog aangekeer nie.
Volgens Thyse is dit ook nog onbekend hoeveel skieters op die toneel was en sê hulle volg verskeie leidrade op.
Die polisie se teen-bende-eenheid en die Stad Kaapstad se spesiale taakspan het ook die plaaslike polisie bygestaan in ’n spesiale operasie op soek na die skuldiges.
Die onlangse voorval kom kort nadat die Wes-Kaapse departement van gemeenskapsveiligheid besluit het om 44 vredesbeamptes (Leap officers) uit die dorp te onttrek en te herontplooi in gebiede waar misdaad glo erger is. Dit terwyl noodlottige skietvoorvalle aanhou styg in Atlantis.
Volgens die bron is dit oorlog en gaan daar nog baie bloed vloei. Die bron het verklap dat daar na bewering baie interne gevegte oor leierskap in verskeie bendegroepe is wat ook die rede agter dié voorvalle kan wees.



