Dit is nou die tyd dat klein ondernemings bemagtig moet word.
Só meen Dawood Hendricks, wat in die konstruksiebedryf werk en onlangs met die subraad 1-voorsitter Allister Lightburn vergader het oor planne hoe om kleiner sakeondernemings te bemagtig.
Volgens Hendricks het sy vergadering met Lightburn oor die nuwe staatsgesubsidieerde (GAP)-behuisingsprojek gegaan en het hy voorstelle gemaak sodat eienaars van kleiner ondernemings ook daarby kan baat. Die behuisingsprojek sluit ongeveer 750 huise in vir mense wat meer as R4 500 maar minder as R15 000 per maand verdien en ook nie volle huislenings by die bank kan kry nie.
Volgens Hendricks was van sy voorstelle dat die kontrakteur wat die kontrak kry, 300 van die huise aan ongeveer 10 plaaslike kontrakteurs wat aan die vereistes voldoen, moet afstaan [om te bou]. Volgens Hendricks moet die prys per eenheid ook wees waarvoor die kontrakteur getender het.
“Ons verstaan die kontrakteur moet geld maak en die projek is steeds sy verantwoordelikheid, en daarom moet hy ’n minimum-administrasiefooi verhaal.”
Hendricks sê ook die kontrakteur moet materiale teen kosprys verskaf en oorbruggingsfinansiering vir lone reël. Volgens Lightburn is dit ’n praktiese plan wat kan werk.
Lightburn het ná die vergadering gesê hy sal die plan na ’n hoër gesag neem. Hy het ook gevra Hendricks moet ’n voorlegging voorberei wat Lightburn met senior amptenare kan bespreek.





