Kunstekaap Teater is opgewonde om sy jaarlikse uitreik-konserte in die platteland aan te kondig, wat op Donderdag 31 Oktober en Vrydag 1 November by die Laerskool Mamre gaan plaasvind. Hierdie inisiatief se doelwitte is om hoëgehalte uitvoerende kunste na landelike gemeenskappe te neem, geleenthede vir kulturele verryking te skep en plaaslike talent te vier deur teater na die mense te neem.

Vanjaar se uitreikkonserte pronk met ’n ongelooflike reeks kunstenaars uit verskeie dissiplines, met ’n dinamiese mengsel ballet, jazz, kontemporêre dans, opera en meer op die spyskaart.

Konsertgangers kan uitsien na optredes deur Kaapstad Stadsballet, Jazzart Dansteater, die jazzsanger Ncedeka aka N-The Queen, die Afrikaapse hip-hop-kunstenaar Jitsvinger oftewel Quinton Goliath, asook die operasangers Janel Speelman en Sipho Qabithole, met Stefan Lombard as musikale regisseur. Daarbenewens kry plaaslike talent van Mamre en Atlantis ook blootstelling, insluitend die Smile Production Band, wie se lede ook al hul vlerke oorsee gesprei het.

Konsertgangers kan ook uitsien na die rolstoelgebonde kontemporêre sanger Nikita Scott.

Die dagkonserte is gratis vir plaaslike skole in die omgewing, wat leerders in staat sal stel om wêreldklas-opvoerings en tegniese aspekte van teaterproduksies soos klank en beligting reg in hul gemeenskap te kan ervaar. Vrydag se uitvoering om 20:00 sal oop wees vir die publiek. Kaartjieverkope vir hierdie konsert is ten bate van Lief en Leed, ’n plaaslike niewinsgewende organisasie wat bestuur word deur mense met gestremdhede vir mense wat met gestremdhede leef.

Lief en Leed is al meer as 20 jaar ’n steunpilaar in Mamre, wat hulle beywer vir die bemagtiging van mense met gestremdhede. “Die geld wat ingesamel word, sal ons visie ondersteun vir ’n Sentrum vir uitnemendheid, wat hulpbronne en geleenthede sal bied – nie net vir mense met gestremdhede nie, maar ook vir die hele Mamre-gemeenskap. Lief en Leed het reeds ’n huurooreenkoms met die Mamre CPA onderteken vir drie hektaar grond by die ingang van Mamre. Hierdie sentrum sal insluiting, kreatiwiteit en bemagtiging vir alle inwoners bevorder,” het die voorsitter, Michael September, en die sekretaris, Paul Arendse, albei met serebraal­gestremd­heid, by een van die repetisies gesê.

Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, sê: “Terwyl ons 30 jaar van demokrasie vier, is dit gepas om daarop te let dat hierdie projek gekonseptualiseer is as ’n kanaal om ons Grondwet te implementeer. Deur teater as ’n instrument te gebruik, bevorder ons sosiale samehorigheid, dialoog met gemeenskappe en hoe ons die kunste ten beste kan gebruik as ’n voertuig vir insluiting van alle gemeenskappe, ongeag taal, godsdiens, ras of geslag. Dit bly een van my persoonlike kalenderhoogtepunte om gesigte te sien verhelder en om die dawerende applous te hoor terwyl leerlinge en volwassenes die absolute betowering van professionele teater ervaar – dikwels vir die eerste keer.”

Vir kaartjiebesprekings en meer inligting, besoek gerus die Kunstekaap-webtuiste www.artscape.co.za of kontak Simone Heradien, Kunstekaap se senior bestuurder vir kommunikasie en handelsmerkbestuur, by simoneh@artscape.co.za of by 073 207 1558 (WhatsApp).

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article