’n Paartjie van Melkbosstrand het verlede week in die Atlantis-landdroshof op klagte van verkragting, mensehandel, aanranding en besit van dwelms verskyn nadat hulle deur ’n spesiale eenheid van die polisie aangekeer is.
Hulle sal na verwagting vandag (Dinsdag 12 November) weer in die hof verskyn, waar hulle na verwagting om borgtog sal kan aansoek doen.
Nog aanklagte kan moontlik by die klagstaat gevoeg word.
Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale vervolgingsgesag, sal die staat borgtog teenstaan. Volgens Ntabazalila kan nie veel oor die saak uitgebrei word nie omdat minderjariges betrokke is.
Volgens ’n betroubare bron kan “lelike dinge” tydens die verhoor uitkom. Die paartjie het by monde van hul regsverteenwoordiger sterk teenkanting aangeteken teen die media se aansoek om die hofverrigtinge by te woon. Die landdros het egter besluit dat WeskusNuus wel die verrigtinge mag bywoon.
Die paartjie kan ingevolge wetgewing nie geïdentifiseer word totdat hulle gepleit het nie.




