Allen Hendricks se dood laat meer vrae as antwoorde.Foto: Facebook


Vriende en familie van Allen Hendricks (38) probeer nog sin maak van sy onlangse dood nadat hy in sy beste vriend se huis deur vermeende lede van die teen-bende-eenheid in Beacon Hill doodgeskiet is.

Volgens die vriend, Ricardo Witbooi, wat nog nie die wêreld in die oë kan kyk ná die tragedie nie, voel hy dit is tyd dat mense moet weet “wat presies” op dié dag gebeur het.

Hy vertel emosioneel dat hy nie eens die begrafnis van sy beste vriend kon bywoon nie omdat mense wat nie weet wat regtig gebeur het nie, allerhande goed op sosiale media kwytraak.

Witbooi beweer hy en sy vriendin het verlede Saterdag (2 November) rustig in sy huis gesit en kuier toe gemaskerde polisielede sy huis bestorm en hulle in twee vangwaens gegooi het.

“Hulle het net gesê hulle soek na die skieters wat ses mense doodgeskiet het. Ek is nie eens toegelaat om my huis te sluit nie,” vertel hy. “Die polisie het my foon gevat, wat steeds weg is.”

Hy beweer verder die lede het op sy sosiale media ingegaan en met verskeie van sy vriende gepraat asof dit hy was.

“Die gemaskerde polisielede het eers vir ure met ons rondgery voordat hulle besluit het om haar [sy vriendin] terug te neem en my in die selle te gaan toesluit.”

Volgens die vriendin, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het die lede haar in ’n bussie gesit en kon sy duidelik hoor hoe hulle onder mekaar praat – wat hulle gaan maak as hulle “hom” kry.

“Ek het nie verstaan van wie hulle praat nie en sou maar die aand daar [Ricardo se huis] slaap. Ons het skaars gestop toe skree hulle die ‘N’ is hier en bestorm die huis. Hulle het soos barbare oor die muur gespring en die deur afgetrap en sekondes later het ek skote hoor klap,” vertel sy.

“Ek het geweet dis op Allen wat hulle skiet omdat sy motor daar gestaan het. Die polisielede het rustig terug na die bussie gekom en net gesê ek kan nie hier slaap nie en my by [my] huis afgelaai.”

Volgens Ricardo is hy die Sondag sonder enige verduideliking vrygelaat. “Ek het eers toe gehoor wat gebeur het en van my vriende het vertel dat Hendricks rondgebel het omdat my huis oopgestaan het en hy nie kon verstaan wat aangaan nie en [gedink het] dat ek dalk op hom wag. Niemand kan nou sê waar my selfoon is nie en ek het ’n diefstalklagte ingedien.”

Die plaaslike polisie het bevestig dat ’n klagte van diefstal aangemeld is.

WeskusNuus het Donderdag reeds navrae oor die voorval aan die Onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) gestuur maar het teen druktyd nog geen terugvoering ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article