WeskusNuus is meer as net ’n gemeenskapskoerant – die koerant het oor die jare ook ’n hawe geword vir die gemeenskap om hul probleme – en somtyds selfs persoonlike sake – te kom deel.

So sê Neorisha Arendse van Radio Atlantis. “Die radiostasie het altyd eers WeskusNuus gekontak as gepraat word van gemeenskapsprojekte en jy hoef nie te wag vir ’n antwoord van die koerant nie, want jy praat nog dan kom die antwoord ‘ons is in’,” vertel sy.

“Inwoners was baie kere verward met die twee plekke – veral toe ons in die dieselfde straat was en mense altyd vir ‘Murphy’ hier kom soek het.”

Die Radio Atlantis/WeskusNuus-erfenisdagkompetisie is een wat Arendse altyd sal bybly.

Die kompetisie was deel van Radio Atlantis se 26ste verjaarsdag, en inwoners moes ’n foto in ’n Erfenisuitrusting met die jongste WeskusNuus in die hand instuur.

“Toe die inskrywings inkom, het ek geweet dit gaan ’n moeilike besluit wees, maar [die wenner] se foto het gewis my aandag getrek.”

Arendse, wat al 13 jaar by die plaaslike radiostasie werk, sê dit is altyd baie aangenaam om WeskusNuus met enige gemeenskapsprojek aan boord te hê.

Volgens Arendse gebeur dinge vanselfsprekend en daar is baie belangstelling uit die gemeenskap.

WeskusNuus is ook betrokke met die “Easter Egg drive” elke jaar saam met die MK1-motorklub en meer as 600 kinders wat dan met lekkernye bederf word. “Daar is vele ander projekte wat WeskusNuus self identifiseer en dan weer met ons kom praat, en as jy weer kyk, gebeur dit.”

Volgens Danny Petersen, voormalige hoof van Berzelia Primêr en nou president van Atlantis Rotariërs, stap hy reeds ’n lang pad saam met WeskusNuus. Petersen sê hy onthou nou nog die voorbladberig van WeskusNuus van 28 Julie 2011 toe hy ’n groot groep plaaslike skolerugby spelers vir skole in Pretoria gewerf het en wyd gekritiseer is.

Petersen het egter teruggekap en gesê hy doen dit vir die spelers se toekoms en verseker daarmee dat hulle ’n goeie opvoeding kry.

WeskusNuus het die afgelope paar jaar ook baie positiewe gebeure in die dorp beklemtoon – veral toe Atlantis se Rotariër-klub gestig is – en berig gereeld oor organisasies se goeie werk.

Volgens Gaynore de Klerk, voormalige vryskutverslaggewer en organiseerder van die Mej. WeskusNuus-skoonheids­kompetisie, was dit een van die grootstes in die dorp en elke jong vrou wou deelneem. Volgens Gaynore was die opbrengs uit die kompetisie vir die jaarlikse WeskusNuus-Kersete waar kinders uit minder bevoorregte gebiede met ’n heerlike Kersmaal en ’n geskenk bederf is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article