Inwoners van die Dassenberg-plakkerskamp sê hulle is keelvol vir die donkerte. Foto: Murphy Roberts


Inwoners van die Dassenberg-rylaan- plakkerskamp is sedert verlede jaar steeds erg ontsteld omdat die enigste beligting wat hulle het, buite werking is.

Volgens die gemeenskapsleier Leroy Graham is hulle keelvol vir die misdaad wat nou daar heers omdat hulle geen beligting het nie.

Inwoners het reeds verlede jaar bande begin brand omdat hul hulpkrete volgens hulle ignoreer word. Volgens die gemeenskap het hulle reeds verskeie kere uitgereik na hul raadslid, maar sonder enige sukses.

Volgens Leeroy moet ongeveer 100 gesinne nou in donkerte leef en is hul eens rustige plakkerskamp nou ’n misdaadnes wat sedert die ligte af is, reeds ’n moord opgelewer het.

Volgens Allister Lightburn, die wyksraadslid vir die gebied en voorsitter van subraad 1, is die ligte dood as gevolg van vandalisme. “Ons het nie die ligte afgesit of enigiets van dié soort nie.

“Ek het persoonlik met inwoners gepraat dat hulle die dienste moet beskerm en nie toelaat dat kwaaijongens hul lewe versuur nie.”

Lightburn het ook bevestig dat die ligte ná vorige vandalisme herstel is. Hy sê ’n ooreenkoms is aangegaan dat geen vandalisme meer sal plaasvind nie, maar daar het dadels van gekom en die Stad se elektrisiteitsafdeling het dus herstelwerk aan die beligting gestop.

Volgens Leeroy is hy dankbaar wetstoepassers patrolleer die gebied gereeld en erken die gemeenskap het belowe om daarna om te sien.

Lightburn het inwoners aangemoe­dig om gereeld na die behuisingskantoor te gaan om uit te vind hoe hul behuisingsaansoeke vorder.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 February 2026

Gift this article