Atlantis was Donderdag (20 Februarie) ’n miernes van bedrywighede met die Stad wat dienste na inwoners gebring het.
Honderde inwoners het reeds van vroeg af by die Saxon Sea-gemeenskapsaal byeengekom om hul klagtes en ander probleme onder amptenare se aandag te bring.
Die Stad se huureenhede het – soos verwag – die meeste klagtes gekry en inwoners het nie geskroom om hul stem te laat hoor nie. Water en sanitasie was ook een van die afdelings wat baie voete na hul tafels gelok het.
Volgens Carl Pophaim, die burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersetting, kon inwoners ook hul titelakte hier uitsorteer. Inwoners het die geleentheid gebruik om navrae oor hul uitstaande aktes te doen.
James Vos, die burgemeesterskomiteelid vir ekonomiese ontwikkeling, het klein ondernemings aangemoedig om die Stad se dienste te gebruik – veral om hul ondernemings bekend te stel. Vos het by die stad se tafel vir sakeontwikkeling hand bygesit om inwoners meer van die “sakehub”te vertel. Inwoners kon ook hul testament gratis laat opstel in ’n vennootskap tussen die Stad en ’n regsfirma.




