Dit blyk die plaaslike polisie weet steeds nie wie sit agter vier verskillende bomdreigemente nie.
Die dreigemente is almal in die bestek van ’n week gemaak. Anonieme oproepe is aan die polisie en Weskus Nuus se kantoor gemaak om te sê daar is ploftoestelle vroeër by die MyCiTi-bushalte, die Atlantis-winkelsentrum en die plaaslike hof gelaat. Geen bomme is egter by enige van dié geboue gevind nie.
Daarna moes pasgebore babas, ernstige siek mense en moontlike Covid-19-pasiënte Dinsdag (16 Februarie) almal in die bloedige son sit terwyl polisie-beamptes die mediese fasiliteit deurgesoek het. Dié geval was die laaste bomdreigement. Pasiënte wat Dinsdag by ’n naburige sentrum moes wag het aan Weskus Nuus gesê alles het baie vinnig gebeur. Die ma van ’n twee uur oue baba moes in die bloedige hitte sit sê daar is niks wat sy kan doen aangesien die dreigement in ’n ernstige lig gesien word.
“Dit is baie ongemaklik hier buite en ek hoop die skuldiges sal gou aangekeer word,” het die ma gesê.
Volgens Natalie Watlington, ’n woordvoerder van die department van gesondheid, moes verskeie dele van die hospitaal ná die dreigement ontruim word. Sy het verduidelik die dreigement het veroorsaak dat pasiënte wat broodnodige mediese sorg ontvang het, ontwrig is. Watlington het die gemeenskap bedank vir hul verdraag-saamheid terwyl die polisie se bom-eenheid die fasiliteit deurgesoek het.
Sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, sê ’n klagte oor ’n bomdreigement word ondersoek nadat die hospitaal die dreigement ontvang het.


