Hugo Hattingh (39). Foto: Hugo Hanuman Hattingh/ Facebook

Vandag is dag 40 van Hugo Hattingh (39) van Wellington se herstelpad ná hy erge brandwonde opgedoen in ‘n fratsongeluk. Dié skeepskaptein is op 7 Julie ernstig beseer in ‘n ontploffing op ‘n katamaran waarop hy aan die Thaise ooskus gewerk het.

Die ongeluk het plaasgevind ’n week voordat Hugo terug Suid-Afrika toe sou vlieg om sy pasgebore seuntjie, Luca, te ontmoet. Hugo se lewensmaat het vroeër na Suid-Afrika teruggekeer vir die bevalling. Dit het egter later gebeur as verwag en Hugo is terug Thailand toe vir werk. Luca is uiteindelik op 6 Junie in ’n Paarlse hospitaal verwelkom en is nou nege weke oud.

Volgens Hugo se pa, Chris Hattingh, gaan dit “bo verwagting” goed met sy seun en sterk hy elke dag aan.

Alhoewel Hugo sterk staan en positief is, is die kanse skraal dat hy binnekort na Suid-Afrika sal kan terugkeer, omdat die kostes astronomiese is, het Chris verduidelik.

Dit sal glo meer as R600 000 kos om Hugo met ‘n vliegtuig, tesame met ‘n dokter en verpleër wat op hierdie stadium vereis word, na Suid-Afrika te bring.

Om kostes te bespaar, gaan Hugo heel moontlik in die Hua Hin-hospitaal aansterk, totdat hy met ‘n kommersiële vlug huis toe kan kom.

Hugo Hattingh herstel goed in die Hua Hin-hospitaal in Bangkok, volgens sy pa, Chris Hattingh. Foto: Netkwer24

Volgens Chris gaan sy seun, wat skade aan sy spierweefsel opgedoen het, sowat elke derde dag teater toe om dooie weefsel te verwyder.

Netwerk24 berig dat Hugo al twee operasies aan sy bene en drie aan sy rug ondergaan het en dat hy steeds baie pyn het, veral wanneer sy verbande geruil moet word.

Ten spyte van die pyn is Hugo vasberade om spoedig te herstel.

Sy pa het gesê dat hy gereeld fisioterapie ontvang en selfs onlangs ‘n paar tree kon gee.

Hugo het gister (14 Augustus) met die hulp van mediese personeel, uit sy hospitaalbed opgestaan. Hy kon dit al drie keer regkry om self orent te kom.

Volgens Chris ry sy seun se emosies wipplank weens die erge pyn waarin hy verkeer.

Die ongeluk het sowat 300km oos van Bangkok plaasgevind toe daar brandstof in die enjingkajuit gemors het. Die dampe het vlamgevat en ’n ontploffing veroorsaak, met die vlamme wat temperature van tussen 1800°C tot 2200°C bereik het, het Chris vroeër aan die Paarl Post gesê.

Die brandstof is glo ná die mors skoongemaak, maar daar het gevaarlike dampe agtergebly.

“Toe Hugo die kajuit binnegaan om aan die kragopwekker te werk, het die petroldampe vlamgevat en ’n ontploffing veroorsaak,” het Chris gesê.

Hugo het ’n nylonkortbroek aangehad en die intense hitte van die ontploffing het sy klere en hare verskroei. Dit het ook ernstige interne beserings veroorsaak, insluitend skade aan sy ingewande, niere, longe en hart.

Sy familie besoek hom om die beurt, met sy suster wat permanent langs sy bed waak.

Hoewel Hugo nog nie sy babaseuntjie ontmoet het nie, praat hy gereeld met hom oor die selfoon sodat Luca sy stem kan leer ken.

Hugo Hattingh se babaseuntjie, Luca, wat sowat nege weke oud is. Foto: Netwerk24

Netwerk24 berig dat Hugo se lewensmaat en Luca nie onmiddellik Thailand toe sal gaan nie, omdat hy nie wil hê hulle moet hom in die toestand sien waarin hy nou is nie.

Hugo se ’n negejarige seun, Aydin, uit ‘n vorige verhouding, het hom onlangs in die hospitaal besoek.

Hattingh is ’n ervare skipper wat klein bote, insluitend seiljagte en katamarans, oor die wêreld heen vervoer. Hy het sy eie onderneming in Thailand waar hy onder meer boottoere met sy twee bote doen.

Dié oudleerder van Paarl Gimnasium woon reeds sowat 16 jaar in Thailand en het oor die jare ’n gerespekteerde naam as skeepskaptein geword.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article