Die heropening van die Goodnow-saal in Wellington het Saterdag (11 Oktober) oud en jonk bymekaar gebring vir die eerste keer sedert dit nege jaar gelede in ‘n brand verwoes is tydens die #FeesMustFall-optogte in 2016.
Dié historiese gebou, wat aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT) behoort, is sedertdien ten volle gerestoureer. Met ‘n gesellige atmosfeer is die heropening met ope arms verwelkom. Die viering is verder gekroon met die uitvoering van die komponis Braam du Toit se O Fire of the Spirit – ’n musikale werk wat oorspronklik vir hierdie saal geskryf is, maar nooit sy beplande première daar gehad het nie.
LEES OOK: Goodnow se skatte erg beskadig in brand
Zelda de Beer, ‘n dosent wat vir meer as drie dekades verbonde is aan KSUT se onderwysfakulteit beskryf die heropening as ‘n trotse en dankbare oomblik.
“Ons harte was swaar gewees omdat dit so lank gevat het omdat ons gedink het dit gaan nooit nege jaar neem om die plek te herbou [nie]. So, dit is met trots wat ons [hier] kan staan. Dit is ‘n warm gevoel in jou hart om weer te sien hoe geskiedenis gaan herleef.”

Die rampspoedige dag toe die studente-optog ‘n gewelddadige draai neem en die Goodnow-saal in vlamme, rook en as verval, sê De Beer, het sy die tragiese gebeurtenis met haar eie oë aanskou.
LEES OOK: Goodnow-saal kry tydelike ‘dak’
“Die dag toe hierdie gebou afgebrand het, het ek hier gestaan. Dit was ‘n tragiese dag in ons geskiedenis gewees. Jy’t gesien hoe jou geskiedenis, hoe die studente se plek van bymekaar kom en waar hulle sosiale bande gebou het, afbrand. Ons het konserte gehou hier; prysuitdelings, erekleure uitgegee of vir studente toegeken hier en toe brand dit af. Everything went into ashes and today it’s rising out of the ashes again.
“En hierdie konsert wat gehou word is spesiaal geskryf vir die Goodnow-saal omdat die gebou afgebrand het. So, ja ons is baie bly dat ons vandag hier kan staan en ons sien ‘n nuwe toekoms vir ons toekomstige studente. Nou kan hulle weer geskiedenis maak. Ons het gedink ons geskiedenis het afgebrand, maar dit het nie. Al het dit nege jaar gevat om dit te herbou, hier staan ons vandag en ons is baie trots op dit wat ons vandag hier sien.”
De Beer sê sy hoop dat die Goodnow-saal vorentoe ‘n plek sal wees waar mense vanuit verskillende agtergronde weer bymekaar kan kom.
“Ons hoop dat met die hand wat ons vat met die Breytenbach-sentrum, en die konserte wat hier aangebied gaan word dat die hele land se mense hier bymekaar kan kom en dat dit ‘n baken van hoop gaan word vir die studente van die toekoms. Ook, dat verskillende kulture in ons diverse land hier bymekaar kan kom.”
Mauricia Plaatjies, ‘n derdejaar onderwysstudent by KSUT op Wellington, sê dit is vir haar amazing om die heropening van die Goodnow-saal by te woon. Plaatjies, wat oorspronklik van die Hexriviervallei is, het tydens die openingseremonie ‘n gedig voorgelees wat sy spesiaal neergepen het vir hierdie geskiedkundige saal.
“Ek het vanoggend (Saterdag 11 Oktober) gedink aan die heropening en toe sê ek vir myself ek dink nie juis ek besef watter groot voorreg dit is om as ‘n huidige student van KSUT verder te bou aan wat die geskiedenis van hierdie mure klaar weerspieël, en klaar uitspreek vir ons. Nou kan ek sê ek was deel van die herbou basies net deur hier te wees. Die mense wat opgedaag het is die mense wat die waardering vir hierdie saal altyd sal koester.”
“Die gedig was ‘n brief aan die Goodnow-saal self. Dit het gegaan oor hoe vergete sy basies staan in almal se teenwoordigheid en hoe sy moet kyk hoe almal – toekomsbouers – kom en gaan en basies vir haar vergeet in die proses. Dan het ek ook net klem gelê op hoe daardie dag vir haar beïnvloed [het] en hoe sy nou haar storie verder kan vertel. Die gedig se naam is Brief aan die Goodnow-Hall.”

Hier is die gedig wat Plaatjies geskryf het:
Ek het jou naam geken, maar nie jou lewensverhaal. Ek het myself nou amper verpes, want hoekom het ek nie lankal net ‘n bietjie dieper gedelf. Besef dat jou geraamtes deel is van jou prag.
Gestaan soos Maria voor die oop graf, min het ek geweet jou donkerte was bereid om al die stof versierde geheime te verklap.
Jy’t vir jare lank met verdroogte trane in oë, die kom en gaan, van toekomsbouers aangestaar.
Terwyl die dag nog heeltyd in jou gedagtes maal, die dag wat rook jou herinneringe verswelg, wat jy teen vensters afgehuil het, die dag wat as diep spore wou begrawe.
Nou kan jy jou storie verder vertel . Wees verseker dat jou klanke sal nog in elke leeftyd asemhaal. Vanaf 1886 tot wanneer die wêreld vergaan.
Hier is waar ek dit gaan laat. My brief van waardering aan jou.






You must be logged in to post a comment.