Die Boland-rugbyunie (BRU) het Sondag op ‘n mediakonferensie in Wellington gesê vanjaar se Top- 12- kompetisie met al sy kwalifiserende spanne gaan voort ondanks mediaberigte oor beweerde skeidsregter-omkopery waarby selfs Top- 12- spanne glo betrek word.
Die unie sê hy het volle vertroue in die integriteit van die driedelige interne komitee wat aangestel is om dié bewerings te ondersoek.
Paarl Post het op 7 Augustus berig oor skokkende bewerings in Rapport oor die wedstrydknoeiery.
LEES: Kaapse Forum vra vir ondersoek ná bewerings van skeidsregter-omkopery
Rapport het berig dat skeidsregters glo tot R15 000 omkoopgeld betaal word om wedstryde in die guns van plaaslike klubs in die Boland te beslis.
Fluitjieblasers het ook aan Rapport gesê klubs sou skeidsregters se brandstofkoste dek.
‘n Duidelik bewoë Bennie van Rooi, president van die Boland-rugbyunie (BRU), het op Sondag se mediakonferensie gesê die unie het volle vertroue en is tevrede met die wyse waarop die bewerings hanteer word.
Dit volg nadat die Kaapse Forum, ‘n burgerregtegroep onder voorsitterskap van Heindrich Wyngaard, gevra het dat die Suid-Afrikaanse rugbyunie (Saru) ter wille van deursigtigheid by die ondersoeke betrek word.
“Boland kan eenvoudig nie homself ondersoek nie,” het Wyngaard vroeër gesê.
Volgens Van Rooi bestaan die ondersoek uit drie dele.
“Dit is die tugkomitee, Sanlam se neutrale ondersoekspan en dan het die klubvoorsitters ook gevra dat ‘n derde komitee saamgestel word. Ek dink dis genoeg,” het hy gesê.
Hy het nie uitgewei oor wat presies hierdie derde komitee behels nie.
Van Rooi is vroeg vandeesmaand deur die Kaapse Forum daarvan beskuldig dat hy persoonlike verhoudings met die voorsitters van sommige rugbyklubs het en dit waarskynlik die integriteit van ondersoeke kan benadeel.
Hierop het hy Sondag gereageer: “Ek gaan nie my verhouding met die mense wat my as president verkies het, verander nie.
“Ek het ‘n professionele rugby-verhouding met die voorsitters,” het hy gesê.
Volgens Van Rooi is Sondagoggend op ‘n vergadering met die BRU se 220 klubvoorsitters besluit dat vanjaar se Top-12-kompetisie voortgaan.
Wyngaard het by navraag die besluit om die toernooi te laat voortgaan, verwelkom, maar volgehou dat die Kaapse Forum daarop sal aandring dat “Boland nie homself kan ondersoek nie”.
“Kaapse Forum tree in die belang van klubs op wat stemloos is. In hierdie vergaderings waarna die president so verwys, kan ek jou verseker kry klubs nie die geleentheid om hulself vrylik uit te druk nie. Ons het die volste reg om ‘n openbare sportliggaam uit te daag wat verteenwoordigend is van gemeenskappe waarin ons werk.”
Volgens Wyngaard sal hulle ook so ver gaan as om ‘n skrywe te rig aan Gayton Mckenzie, die minister van sport, asook Mark Alexander, die Saru-president.
“Ons gaan daarop aandring dat hulle moet help om te verseker dat hierdie
ondersoeke deeglik en onafhanklik hanteer word. As daar by Boland sulke probleme is, doen dit skade aan ‘n groot deel van die Suid-Afrikaanse rugbygemeenskap. As hierdie beweerde
knoeiery nie behoorlik oopgevlek word nie, gaan dit eenvoudig voortduur.”




