KIMBERLEY – Die vrouens van twee van die vyf vermiste mynwerkers wat meer as twee weke gelede in ’n modderstorting byna 900 meter ondergronds by Joint Shaft in Kimberley vasgekeer is, luister “oor en oor” na hul mans se laaste stemboodskappe waarin hulle sê hulle is “op pad om met hul nagskof te begin, en is lief vir hul gesinne”.
Só het twee skoonsusters van die mans vandeesweek aan NoordkaapBulletin gesê.
“My swaer was deurentyd bekommerd oor die toestande onder in die myn, en het een keer gesê hy wil nie eendag in die myn sterf nie,” sê die een vrou.
Almal se “harte was gebreek” om drie dae na die ramp hul geliefdes se besittings en selfone in hul sluitkaste op te pak, en hul voertuie van die mynterrein weg te ry.
Die ergste is die myn se “ongevoelige houding en gebrek aan enige kommunikasie oor hoe die reddingswerkers vorder in hul poging om die mans op te spoor”.
“Al wat ons gehoor het voordat kommunikasie opgehou het, is hulle maak boorgate (in ʼn poging om kontak met die mans te maak) en pomp water uit die myn uit”, sê die vroue.

Die myn ontken die bewerings ten sterkte in hul jongste verklaring (lees onderaan). In vorige verklarings is gesê hulle kommunikeer gereeld met die families en het berading aangebied.
Die vroue wil hulself nie identifiseer nie uit vrees dat die soektog na die mans gestaak word.
LEES OOK: Likwidasie-aansoek: Ekapa-myn op sy ‘knieë gedwing’; kommersieel insolvent
Die vroue meen die maatskappy “is meer besorg oor regsprosesse as oor die menswaardigheid van ons en ons mans. Die onsekerheid is verskriklik. Drie dae na die ramp is ons ingeroep en met tegniese tekeninge verduidelik waar die mans is. Ons het na die beheerkamer gegaan en na kamerabeelde van die ondergrondse tonnel gekyk. Die mynbaas het vertel daar is geen kans op oorlewing nie, maar in die volgende asem sê hy daar is ʼn 1% kans. Dit vererger ons verwarring.”
“Ons het gevra om weer na die beheerkamer geneem te word en op die kameras te kyk wat die reddingswerkers, wat 24 uur van die dag in verskillende skofte werk, daaronder doen. Ons wil nie ondergronds gaan nie, ons wil net sien hoe die skag en terrein lyk waar dit gebeur het. Ons het afsluiting en sekerheid nodig.”
Hulle wil presies weet wat gedoen word om die mans te bereik.
“Ons het van ʼn ingeligte verneem daar was nog kleiner modderstortings. Ons wil nie hê nog lewens moet verlore word nie.”
Families verlang waarheid, respek
Die trauma op die kinders is verskriklik, sê een vrou. “My suster se hoërskoolkind het eendag uit die huis gehardloop en huilend sy pa gevra om nog een keer met hom te raas. Wanneer kom pappa huis toe?’”

Die vroue vertel dis moeilik om aan die kinders te verduidelik waar hul pa’s is.
Die skoonsusters het ver gereis om hul susters en die gesinne te ondersteun. “Ons help met die kinders, kosmaak, skoonmaak, ons luister as ons susters huil. Ons gee hulle ruimte om te rou”.
“Al wat die families verlang, is die waarheid en respek,” sê die vroue.
‘Emosies verstaanbaar hoog’
In die jongste verklaring sê die myn die vyf werkers was in diens van ’n mynboukontrakteur. “Skakeling met die families word hoofsaaklik deur die kontrakteur gekoördineer, ondersteun deur Ekapa-bestuur.
“Families ontvang sedert die voorval gereelde opdaterings, gewoonlik op ’n daaglikse basis, en vergaderings is beide in persoon en deur verteenwoordigers gehou. Hierbenewens is families genooi na inligtingsessies by die myn se beheerkamer, waar die herwinningsoperasies en moniteringstelsels verduidelik is.
Families is die geleentheid gebied om die beheerkamer te besoek om te sien hoe die moniteringstelsels werk en om te verstaan hoe die herwinningsoperasies bestuur word. Sommige familieverteenwoordigers het reeds sulke inligtingsessies bygewoon.
“Dis ’n uiters traumatiese situasie en emosies loop verstaanbaar hoog. Die maatskappy bly daartoe verbind om kommunikasie met die families te handhaaf en te verseker dat inligting wat gedeel word, akkuraat en geverifieer is. Ons bly vir families beskikbaar wat verdere direkte opdaterings verlang.”
Die myn bedryf ’n groot netwerk moniteringskameras wat gebruik word vir operasionele toesig, veiligheidsmonitering en om ondergrondse aktiwiteite te bestuur. Die stelsels is hoofsaaklik ontwerp vir regstreekse operasionele monitering eerder as vir langtermyn-bewysopname.
“Om veiligheids-, operasionele en bewysredes kan onverwerkte beheerkamervideo’s nie openbaar versprei word nie, maar ons aanbod aan families bly.”
Herwinningsaktiwiteite duur voort
Onmiddellik ná die voorval is boorwerk en tegniese assesserings gedoen om te bepaal of daar oorleefbare toestande is waar die werkers laas aangemeld is. Die tonnels is tot byna teen die dak met water en modder gevul, en geen reaksie is bespeur nie.
Gegrond op die beskikbare bewyse, word die vyf mynwerkers as oorlede beskou, en die operasie gaan voort as ’n soek-en-herwinningspoging. Herwinningsaktiwiteite onder noukeurig beheerde toestande duur voort onder streng veiligheidsprotokolle sodat geen verdere lewens in gevaar gestel word nie. Grondtoestande en waterbeweging word voortdurend gemoniteer en bestuur.
LEES OOK: Kimberley-myn redding | Massa water bemoeilik reddingspoging
Op Woensdag, 4 Maart, is berig dat 33 738 kubieke meter water uit die geaffekteerde area gepomp is. Altesaam 228 skoppe materiaal is aan die oostekant en 296 skoppe aan die westekant uitgelaai.
Laaiwerk duur stelselmatig en onder streng veiligheidsprotokolle aan beide kante van die geaffekteerde area voort. Die waarneming is dat watervlakke geleidelik daal namate die pompwerk voortduur.
Tydens laaiwerk aan die oostekant is ’n boortoring, geïdentifiseer as S1L3, blootgelê. Spanne werk versigtig om verby die toerusting te beweeg as deel van die herwinningsproses.
Vordering word deur veiligheid gedryf; geen verantwoordelike tydlyn kan verskaf word vir wanneer die geaffekteerde werksareas bereik sal word nie.
Die myn ontken gerugte van ʼn “tweede modderstorting wat vergelykbaar is met die oorspronklike voorval.”
Alle bydraende faktore ondersoek
“Die voorval op 17 Februarie het skielik plaasgevind sonder enige vooraf aanduiding van die skaal daarvan. Die myn het oor ’n aantal jare waterbestuur- en versagtingsmaatreëls geïmplementeer, insluitend dreineringsboorwerk en pompprogramme wat deel is van normale risikobestuur vir ondergrondse mynbou.”
Ingevolge die Wet op Gesondheid en Veiligheid in Myne, is ’n formele ondersoekproses aan die gang. Bevindinge rakende die oorsake en bydraende faktore sal deur die toepaslike regulatoriese en ondersoekprosesse hanteer word, “eerder as deur spekulasie”.
Ekapa werk met die departement van minerale bronne saam en alle toepaslike owerhede in enige ondersoek na die voorval.
Statutêre vereistes is dat ʼn werkgewer ’n formele ondersoekverslag binne ʼn voorgeskrewe tydperk indien, en die departement mag ook hul eie ondersoek doen.






You must be logged in to post a comment.