Franschhoek-polisiestasie
Vyftien polisiebeamptes verbonde aan die Franschhoek-polisiekantoor word tans ondersoek. Foto: Jana Scheepers

FRANSCHHOEK – Vyftien polisielede verbonde aan die Franschhoek-polisiekantoor word tans ondersoek en kan moontlik geskors of na ander polisiekantore oorgeplaas word.

Dít blyk uit ’n verklaring deur Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, nadat kommer in die Franschhoek-gemeenskap ontstaan het oor berigte dat polisiëring in die dorp moontlik verlam kan word indien beamptes van die plaaslike kantoor verwyder word.

Marais het in ‘n vae verklaring verduidelik die provinsiale bestuur van die polisie het bevestig dat die 15 beamptes verbonde aan die Franschhoek-polisiekantoor briewe van voorneme ontvang het wat dui op moontlike skorsing of oorplasing.

Dit volg op voortgesette ondersoeke ná beweerde onreëlmatighede by die kantoor.

Marais het egter gesê die polisie het haar verseker dat polisiedienslewering in Franschhoek nie geraak sal word nie, aangesien vervangingspersoneel reeds ontplooi is om voortgesette polisiëringsdienste te verseker.

Die minister het die verklaring uitgereik nadat sommige inwoners hul kommer uitgespreek het dat polisiëring in die gebied ernstig benadeel kan word indien ’n groot aantal beamptes van die stasie verwyder word.

Volgens ’n betroubare bron wat vertroud is met die saak, sluit die ondersoek glo die meerderheid van die polisiebeamptes in Franschhoek in.

Die ondersoek hou, na bewering, verband met die manier waarop misdaadvoorvalle op die polisie se stelsel aangeteken is.

Volgens die bron het die polise, insluitend die Franschhoek-polisiekantoor, onlangs ’n verandering aan hul stelsel aangebring wat vereis dat misdaadvoorvalle op ’n nuwe manier aangeteken moet word.

LEES OOK: Veiligheidswag in Franschhoek aangeval en gesteek

Dié prosedure is egter glo nie gevolg nie, na bewering weens “luiheid”.

Dit is tans onduidelik watter gevolge die beweerde fout inhou, of hoeveel sake en voorvalle moontlik in die proses geraak is.

Die ondersoek na die 15 polisiebeamptes het glo vroeër vanjaar begin.

Volgens Phaladi Shuping, woordvoerder van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), is dié owerheid nie bewus van so ’n ondersoek nie, wat dit onduidelik laat wie die ondersoek hanteer.

Inwoners wat ontevrede is oor die vlak van dienslewering word aangemoedig om hul bekommernisse by die bestuur van die kantoor in hul dorp aan te meld.

Indien die aangeleentheid nie opgelos word nie, kan diensleweringsklagtes by die polisie ingedien word deur e-pos na WC ServiceComplaints@saps.gov.za te stuur of deur die Wes-Kaapse polisie-ombudsman te kontak.

Bewerings van wangedrag deur polisiebeamptes kan ook by Opod aangemeld word deur 021 941 4800 te skakel of e-pos na Complaints.WesternCape@ipid.gov.za te stuur.

Paarl Post het navrae aan Marais en die Wes-Kaapse polisiediens gerig om onder meer vas te stel watter sake ondersoek word, maar geen terugvoering is ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article