VIRGINIA – Matthew Bam, voormalige hoofseun van die Nobilis-skool in Virginia, is op Saterdag 24 Oktober in ’n botsing reg van voor op die Welkom-Virginia-pad oorlede.
Matthew, wat in 2025 as hoofseun gedien het, se skielike dood het sy voormalige skoolgemeenskap in rou gedompel.
Die Nobilis-skool het op Facebook hulde aan hom gebring en het hom beskryf as ’n steunpilaar, ’n lojale vriend en iemand wat altyd bereid was om ander te help.
“Ons liewe Matthew was nie sommer net ’n leerder nie. Hy was ’n steunpilaar, iemand op wie jy altyd kon staatmaak. Sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie, en hy was altyd bereid om te help waar hy kon,” lui die skool se boodskap.
Ons liewe Matthew was nie sommer net ’n leerder nie. Hy was ’n steunpilaar, iemand op wie jy altyd kon staatmaak
Volgens die skool was Matthew baie geliefd onder sy medeleerders en het hy ’n besondere vermoë gehad om ander welkom en ingesluit te laat voel. Hy het ook nie geskroom om vir ander op te staan wanneer dit nodig was nie.
Sy grappies en ondeundheid het ’n blywende indruk op die personeel gemaak. Hoewel sy afwesigheid ’n groot leemte laat, sal sy voormalige onderwysers en medeleerders hom onthou vir sy glimlag, hulpvaardigheid en die vreugde wat hy in ander se lewens gebring het.
“Ons harte is seer, en woorde voel te min om die verlies te beskryf,” lui die boodskap.
Die skool het sy meegevoel aan Matthew se ouers, Martin en Desire Bam, asook die res van die familie, betuig. Martin Bam was voorheen die voorsitter van die skool se beheerliggaam.
“Jou herinnering sal vir altyd in ons harte voortleef. Die lag, die vriendskappe, die hulpvaardigheid en die liefde wat jy agterlaat, sal nooit vergeet word nie.”
Jou herinnering sal vir altyd in ons harte voortleef. Die lag, die vriendskappe, die hulpvaardigheid en die liefde wat jy agterlaat, sal nooit vergeet word nie
Die skool het sy huldeblyk afgesluit met ’n emosionele afskeid aan die oud-hoofseun:
“Rus sag, ons liewe hoofseun van 2025. Jy is nou vir altyd die hoofseun wat in ons harte sal bly voortleef.
“Eens ’n Nobilis-leerder, altyd deel van die Nobilis-familie.”
Matthew word deur sy ouers, Martin en Desire Bam, en twee boeties, Laurent en Henrico Bam oorleef. Begrafnisreëlings is nog nie bekend gemaak nie
LEES OOK: Volharding goud werd




