PRETORIA – Talle braaiers, 100 braairoosters wat oor ’n afstand van 100 meter gestrek het en 2 500 skaaptjops wat gelyktydig op die kole gebraai is, het Donderdag by die Ons Plek Derdepoort-naskoolsentrum in Pretoria vir ’n skouspelagtige massabraai gesorg.
Die geleentheid, wat deur Solidariteit Helpende Hand se HelpJag-inisiatief ondersteun word, het verlede jaar se rekord van 2 300 skaaptjops verbeter. Boerboel Wear het die uitdaging aanvaar nadat Meyer le Roux van Buffelsfontein Brandewyn en Baardolie die onderneming genooi het om die vorige rekord te verbeter.
Selfs bekendes het hul moue opgerol en saam met die gemeenskap agter die braaivure ingeskuif. Onder hulle was die musiekgroep Jan Jan Jan, Ichnus Wait, Ruan du Toit en Liezel Pieters.

“Die dag se doel was om hulpbehoewende mense in die gemeenskap ’n bietjie met ’n lekker skaaptjoppie te bederf. Van ons ouer mense sê hulle het twee jaar laas ’n luukse soos ’n skaaptjoppie gehad,” sê Margole Riekert, hoof van projekte by Solidariteit Helpende Hand.
Skaaptjops vir dié wat dit nodig het
Die kinders van Ons Plek Derdepoort was eerste aan die beurt om te eet. Die oorblywende tjops is daarna verpak en versprei aan kinderhuise, skole wat by Helpende Hand se Kosblikkie-projek baat vind, ouetehuise en tehuise vir persone met gestremdhede in die omgewing.
Die massabraai is deel van HelpJag, Helpende Hand se inisiatief wat jagvleis insamel om voedingskemas regoor die land te ondersteun. Die Kosblikkie-projek is een van die programme wat hierby baat vind.
Die eerste massabraai is in 2025 aangebied, toe Buffelsfontein 2 300 skaaptjops geskenk en gebraai het. Le Roux het Boerboel Wear daarna uitgedaag om vanjaar die vleis te voorsien. Die onderneming het die uitdaging aanvaar en al 2 500 skaaptjops vir Donderdag se braai geskenk.
Volgende jaar se uitdaging: 3 200 tjops
Die uitdaging is nou aan die kykNET-program OntbytSAKE oorgedra. Die program het Le Roux se uitdaging aanvaar om volgende jaar 3 200 skaaptjops te skenk en Boerboel Wear se rekord te probeer verbeter.
Volgens Riekert sal die massabraai voortaan ’n jaarlikse instelling op Helpende Hand se kalender wees.
“Ek is opgewonde om te sien hoe ons groter kan groei en nog meer mense met tjoppies kan bederf,” sê sy.
Helpende Hand het Bosveld Charcoal bedank vir die braaiers, houtskool en Blitz, asook Boerboel Wear en Buffelsfontein Brandewyn en Baardolie vir hul bydraes tot die geleentheid.
LEES OOK: Behoeftige leerders kry skooltassies op eerste dag van gr. 1







You must be logged in to post a comment.