Die Langeberg-munisipaliteit waarsku inwoners om versigtig te wees nadat ‘n krokodil glo in vloedwater gebied in die gebied gesien is.
“Inwoners word dringend aangeraai om uiters versigtig te wees na aanleiding van berigte van ‘n krokodil wat in oorstroomde gebiede binne die gemeenskap gesien is. Vloedtoestande kan veroorsaak dat gevaarlike diere soos krokodille na residensiële gebiede, riviere, paaie, laagliggende kruisings en oop waterkanale beweeg,” lui die waarskuwing van dié munisipaliteit.
In ‘n verklaring maan die munisipaliteit dat inwoners – wegbly van vloedwater, riviere, damme en dreineringskanale. Daar word ook gevra dat kinders en troeteldiere te alle tye weg van oorstroomde gebiede gehou word. Dit is nie duidelik waar in die Langeberg gebied die waarneming gemaak is.
“Die publiek word versoek om kalm, maar waaksaam te bly en met veiligheidsbeamptes saam te werk. U veiligheid bly ons hoogste prioriteit. Rapporteer onmiddellik enige krokodilwaarnemings aan: 023 615 8911 of 0860 88 1111.”
In Maart 2021 het ‘n onbekende getal krokodille vanuit ‘n voerkraal naby Bonnievale in die Breërivier ontsnap. ‘n Aantal is teruggevind, maar daar is vermoed nie almal nie.
Dorpe binne die munisipale gebied is ook die afgelope week hard getref deur die stormagtige weer wat op die Wes-Kaap neergeslaan het.
Inwoners en verskeie besighede, insluitend wynplase, is nou hard besig om die stukke, fisies en figuurlik, op te tel nadat die gebied ook deur verwoestende vloede getref is. Swaar reën en sterk wind het ook grootliks bygedra tot die verwoesting.
Die Viljoensdrift-wynplaas wat reglangs die Breederivier geleë is, en ook bootritte aanbied, is Dinsdag (12 Mei) hard getref nadat dié rivier sy oewers oorspoel het. Hul wynlokaal is erg getref hoewel dit nog staande is. In ‘n Facebook-plasing sê die wynplaas dat hulle ernstige verliese gely en hul harte is gebreek. Teen Donderdagmiddag het die water begin sak.

“Die water begin uiteindelik sak, maar die verwoesting wat agtergelaat word, is onmeetbaar. Ons is dankbaar dat alle personeel en familie veilig is. Maar om ons geliefde huis so te sien, is ‘n ander soort pyn. Ons sal herbou en sterker terugkom. Maar vir vandag treur ons. Dankie aan almal wat ons gehelp het en almal wat uitgereik het. Hou asseblief die hele Robertson Wynvallei en Langeberg Munisipaliteit-gemeenskap in julle harte. Die pad na herstel is lank, maar so ook ons liefde vir hierdie vallei,” lei nóg ‘n Facebook-plasing deur Viljoensdrift.
In Robertson het die historiese Van Loveren-wynplaas, wat byna nege dekades bestaan, ook groot skade gelei. In ‘n verklaring bevestig het die wynlandgoed bevestig dat die Breederivier deur groot dele van die eiendom gespoel het. Daar is opgeteken dat die vloedwaters byna twee meter hoog binne die wynkelder bereik het. Skade sluit in pakhuisfasiliteite, wingerde, infrastruktuur en selfs operasionele toerusting.
“Aanvanklike assesserings dui op aansienlike verliese aan voorraad, met ‘n geraamde 1,3 miljoen bottels wyn, tesame met vate en belangrike produksietoerusting, insluitend filtreerstelsels en sonkragbattery-infrastruktuur. Sekere wingerde, besproeiingstelsels en toegangspaaie is ook geraak, terwyl die volle omvang van die wingerdskade, insluitend die aantal hektaar wat geraak is, nog steeds bepaal word.”

Daar het boonop nog ‘n brand ook Woensdagmiddag (13 Mei) uitgebreek by Van Loveren se wynkelder nadat ‘n battery vlamgevat het. Die brand is vinnig onder beheer gebring.
Van Loveren het in ‘n Facebook-plasing almal bedank vir die bystand en ondersteuning.
“Te midde van die chaos, die opruiming, die onsekerheid en die verlies, bly een ding sterker as ooit tevore: familie. Die mense wat opdaag, ‘n hand bysit, ‘n maaltyd deel, ‘n skouer aanbied en ons daaraan herinner dat geen storm vir ewig duur nie. Oor die afgelope paar dae is ons oorweldig deur die vriendelikheid, ondersteuning en vrygewigheid wat deur ons plaaslike gemeenskap en mense van ver buite die vallei getoon is.”
Hulle is nou daarop gefokus om saam te staan alles weer te herbou.
“Van bure en vriende tot besighede, boere en vreemdelinge, elke boodskap, helpende hand en daad van deernis het meer beteken as wat woorde kan uitdruk. Elke bottel wat geniet is, elke besoek wat beplan is en elke bietjie ondersteuning help gesinne soos ons s’n om voort te gaan met herbou na hierdie verwoestende week. Daarvoor is ons innig dankbaar. Kom ons staan saam, herbou saam en vasklou aan wat werklik die belangrikste is.”
Inwoners by die Silwerstrand-gholf- en rivierlandgoed het ook onderdeur geloop met hewige oorstromings. Een persoon het selfs met hul kano rond gevaar naby sy eiendom.
Bonnievale is ook geaffekteer deur die vloedwaters, met net een kothuis se dak van die Melkhout gasteplaas wat sigbaar was so hoog die water gestyg het. Die rivierkothuise en ook die kampeerterrein is gesluit to verdere kennisgewing, lui ‘n verklaring.
“Wees asseblief geduldig met ons rakende besprekings, e-posse en boodskappe. Ons weet nie wanneer ons weer krag sal hê nie. Ons sal so gou as moontlik reageer. Bid asseblief vir al die mense wat deur hierdie verwoestende vloed geraak word.”
By Malgas in die Swellendam-munisipaliteit moes inwoners ook noodgedwonge ontruim toe hul woning oorspoel het met die water.







You must be logged in to post a comment.