Dit is die 11-jarige Simphiwe Ditshada se droom om soos Oscar Pistorius ’n goue medalje op die Paralimpiese Spele te wen.
Al wat hy nodig het, is ’n paar lemme waarmee hy homself kan bewys.
Dié sportmal-seuntjie was sewe jaar oud toe hy breinvliesontsteking gekry het. Sy liggaampie het septies geraak en albei sy bene en ’n gedeelte van sy een arm moes geamputeer word. Hy het drie vingers aan sy linkerhand behou. Daarmee kan hy alles doen.
Hy is ook baie vaardig met sy stompie-arm en kan met gemak onder meer ’n rugbybal daarmee vasknyp.
Die knapie, wat sommer diep in mense se harte kruip, is ’n gr. 6-leerling aan die Hoërskool Sandveld, ’n gekombineerde skool op Wesselsbron.
Hy speel rugby en het die afgelope Sondag in Welkom ’n drie gedruk in ’n wedstryd voordat die Griffons in ’n Curriebeker Premierliga-wedstryd teen die Cheetahs gespeel het. Hy speel op sy stompies omdat hy nie prostese het wat pas nie.
Die hoogtepunt van Simphiwe se dag was egter nie sy eie drie nie, maar toe hy op sy stompies saam met die Griffons-kaptein, Duan Pretorius, vir die hoofwedstryd op die veld gedraf het.
Een van Simphiwe se onderwyseresse, Lizelle Olivier, het hom onder haar vlerk geneem en samel geld in vir ’n stel gewone kunsbene.
Dit sal sowat R85 000 vir die kunsbene en R100 000 vir lemme kos.
Simphiwe se huidige kunsbene is te klein vir hom.
Olivier sê Simphiwe het absoluut ’n sporttalent. Benewens rugby speel, stoot hy gewig en gooi spies. Sy droom is egter om ’n lemnaeler te word.
Van ’n rolstoel wil hy niks weet nie.
Die knapie is ook akademies sterk en is onder die toptien leerlinge in sy klas.
Sy ouma Selina versorg hom.
Toe hy in Bloemfontein vir evaluasie was, het hy die geleentheid gehad om met lemme te hardloop.
Dit het gewys Simphiwe het die vermoë om mededingend te wees wanneer hy met lemme hardloop.
Die stel lemme wat hy voorheen gehad het, is te klein vir hom en het gebreek.
Olivier sê Simphiwe se skoolmaatjies aanvaar hom soos hy is.
“Ek is seker vir die kinders in Welkom, teen wie Simphiwe rugby gespeel het, was hy iemand oor wie hulle kan nadink.”
Nico Els van RSD-rugby, wat rugby afrig by skole in die Goudveld, Toppa Fick en die skoolhoof Petra van der Berg ondersteun Olivier se projek om vir die talentvolle seun geld in te samel. – Molly Green





