Om ‘n eeu te leef is buitengewoon, maar hierdie week vier Welkomiete die lewe van twee besonderse vroue wat albei 104 jaar oud word.
Maria Boone en Bybie Fourie het op onderskeidelik Woensdag en Donderdag hul verjaardag gevier, maar om hierdie mylpaal meer besonders te maak, deel albei vroue ‘n pioniers-avontuur.
Die twee vroue deel ‘n band met die Goudstad se geskiedenis.
Hulle het albei in 1951, so aan die begin van die bestaan van die gouddorp Welkom, saam met hul mans en nuwe gesinne hierheen verhuis om die onbekende hul nuwe tuiste te maak.
Welkom het 78 jaar gelede, op 15 April 1947, ontstaan en is eers op 23 Julie 1948 amptelik as dorp gestig. Welkom het op 14 Februarie 1968 stadstatus gekry.
Grootouma Boone, beter bekend as Riet of net Ouma, woon steeds ná 74 jaar in Welkom.
Sy is op 3 Desember 1920 in Zoeterwoude, Holland, gebore en was een van sewe broers en susters.
Sy het in 1937 vir Jos Boone, die liefde van haar lewe, ontmoet. Hulle is in 1939 getroud.
Uit Nederland na Welkom
Vyf kinders is uit hierdie huwelik gebore: Lia Smith (oorlede), asook Frans (oorlede), Joe (74), Chris (71) en Pat Boone (66). Die oudste kinders, Lia en Frans, is onderskeidelik in 1947 en 1949 in Holland gebore.
Toe Roberts Construction vir Jos in 1951 werk aangebied het, het hulle na Welkom verhuis, en die Boone-familie is een van die oorspronklike families wat verantwoordelik was vir die vestiging van Welkom in die vroeë dae.
Toe hulle in Welkom kom woon het, was daar ‘n groot Nederlandse gemeenskap met vaste Nederlandse waardes en tradisies.

Jos en Ouma was 66 jaar getroud voordat Jos in 2013 in die Mediclinic Welkom op die ouderdom van 89 oorlede is.
Ouma het 13 kleinkinders en 15 agterkleinkinders, en daar is ‘n ouderdomsverskil van 99 jaar tussen Ouma en haar 13de agterkleinkind, Francis.
Van Rouville na Welkom
Ouma Bybie, oftewel Elizabeth Mara Fourie (née Meyer), is op 4 Desember 1920 in Rouxville gebore en is in 1940 met Dawid Alwyn Jacobus Fourie getroud.
Die egpaar het in 1968 na Rustenburg verhuis, waar Dawid op 31 Oktober 1978 oorlede is.
Ouma Bybie het in 1993 teruggekom Welkom toe en gewoon by haar oudste dogter, Elsa van der Merwe.

Elsa was getroud met Das van der Merwe, wat onder Welkomiete bekend was vir sy betrokkenheid by motorsport en veral vir sy liefde vir stampkarre, hitsmotors en nael-motors.
Das het op 14 Oktober 2008 gesterf en Ouma Bybie gaan toe by haar seun Fanie in Lydenburg woon.
In Januarie 2011 trek sy terug Welkom toe en gaan woon in die Tehuis Nyala, tot met haar dogter Elsa se dood in April 2019.
Sy is toe terug Rustenburg toe, maar het in 2024 na Knysna verhuis om by haar kinders te woon.
Daar is nege kinders − Kobus Fourie (oorlede), Elsa van der Merwe (oorlede), Willie Fourie (78), Fanie Fourie (oorlede), Giellie Fourie (oorlede), Matty Hayward (69), Danie Fourie (68), Elize Osborne (66) en Riekie Smith (oorlede) − uit die huwelik gebore.

Vyf van die kinders is in die distrikte Rouxville en Reddersburg gebore, en die ander vier is in Welkom gebore.
LEES OOK: Oudprokureur oorlede
Grootouma Bybie se jongste kleinkind is 41 jaar oud en die jongste agterkleinkind is sewe. Sy het 24 kleinkinders, 46 agterkleinkinders en 11 agter-agterkleinkinders.
In Januarie volgende jaar word haar 12de agter-agterkleinkind verwag.
Ouma Bybie is nog gesond en loop met ‘n loopraam.
Sy is lief vir inkleur en lees graag, veral oor die natuur, en skryf graag. Sy is lief vir haar Hemelse Vader en lees graag haar Bybel.
Haar gehoor het net ‘n bietjie verswak, maar sy geniet nog goeie ooggesondheid.






You must be logged in to post a comment.