Ds. Philip Mc Laren is leraar van die Oase-gemeente in Welkom

Wie van ons het nie vriende nodig nie – nodig om te lag, te droom en saam te lewe? Vriendskap begin met verhoudinge, verhoudinge wat tussen twee mense ontstaan. Almal van ons wil tog in gelukkige verhoudinge wees wat vir mekaar hoop, vreugde en veiligheid bied. Vriendskappe gebeur nie sommer vanself nie. ‘n Mens moet daarna gaan soek, daaraan werk en dit instandhou.

Vir ons as gelowiges het ons die ware voorbeeld van vriendskap in ons Here Jesus.

Johannes 15:13: “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.”

Jesus het Sy lewe vir ons gegee sodat diegene wat in Hom glo die ewige lewe kan hê en dit ook in oorvloed (Johannes 10:10).

Dit is ‘n wonderlike voorreg om ‘n vriend te hê in wie Jesus lewe en om ‘n vriend te wees wat lief is vir Jesus. Jesus het vir Sy dissipels gesê: “Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie. Nee, Ek noem julle vriende” (Johannes 15:15).

Dink mooi oor die spreekwoord: “Wys my jou vriende en jou lewe sal daarvan getuig.”

Ons kan ‘n gebed maak van ons lewe en ons vriende. Kom ons vertrou die Here met ons vriendskappe sodat ek ook ‘n goeie en getroue vriend sal wees en dat ons sal lewe soos wat die Here van ons verwag.

‘n Goeie vriend is een wat eenvoudig die pad saam met jou wil stap en dit geniet.

Die een wat jou wil help om die beste daarvan te maak deur vir jou om te gee.

Die een wat daar is om seker te maak dat jy in jou menswees groei en leer.

En die een wat jou verantwoordelik hou om verbintenisse na te kom, maar wat ook daar is wanneer jy hulpeloos en gebroke is.

Om hierdie vriend in jou lewe te hê en om so ‘n vriend te wees sal jou gelukkig maak.

Wanneer die tyd aanbreek dat ons as vriende moet skei, sal daar altyd die band van vriendskap bly omdat ek weet ek was saam met vriende en ons was vriende saam in Christus.

− Ds Philip Mc Laren, leraar: NG Bedelia

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article