Mieke Strydom (links) en Hayley Docherty (regs), saam met hul afrigter Marisa Steyn, wat ‘n groot rol speel in hul ontwikkeling. Sy is hul afrigter in hokkie, krieket asook by die Vrystaat-krieketspan. FOTO: Verskaf

Twee plaaslike sportsterre, Mieke Strydom en Hayley Docherty, het die Vrystaat met trots verteenwoordig as lede van die Vrystaatse o.13-meisieskrieketspan tydens die jaarlikse streek-kriekettoernooi wat van 28 November tot 2 Desember in Johannesburg plaasgevind het.

Die span het ‘n indrukwekkende vierde plek uit 16 spanne behaal.

Net een oefening voor hulle deelneem

Wat dié prestasie besonder merkwaardig maak, is dat die groep slegs een oefening saam gehad het voordat hulle aan die sterk mededingende toernooi deelgeneem het.

Ten spyte hiervan het albei Volkies hul stempel duidelik afgedruk.

Mieke het as die span se paaltjiewagter uitgestaan, terwyl Hayley as ‘n openingsnaatbouler ‘n belangrike rol in die span se aanval gespeel het.

Mieke Strydom (links) en Hayley Docherty (regs)
Mieke Strydom (links) en Hayley Docherty (regs)

Geen vreemdelinge vir sportprestasies

Die twee meisies is egter geen vreemdelinge vir hoogstaande sportprestasies nie. Gedurende die afgelope jaar het hulle op verskeie terreine uitgeblink en aan talle provinsiale spanne deelgeneem.

Mieke en Hayley was albei deel van die Vrystaatse netbalspanne, is albei gekies vir Noord-Vrystaat hokkie, en is ook uitblinkers op atletiekgebied.

Boonop is albei lede van die skool se netbal- en hokkiespanne wat hul onderskeie ligas gewen het, en hulle is ook deel van die onoorwonne skoolkrieketspan.

Die skoolgemeenskap is uiters trots op hierdie twee talentvolle spelers wat nie net hard werk nie, maar ook ware trots in hul skool en provinsie inspireer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article