Welkom-Gimnasium se seëvierende tweede rugbyspan.
Welkom-Gimnasium se seëvierende tweede rugbyspan.

Welkom-Gimnasium het in die 2025-seisoen opnuut sy staal getoon deur indrukwekkende prestasies op die rugby-, netbal- en hokkieveld te behaal.

Die seisoen is gekenmerk deur spanwerk, toewyding en ‘n ware Gim-gees wat deurentyd gestraal het.

Op die rugbyveld het die o.14A-, B- en C-, o.15B- en C-, o.16A- en o.19A-spanne die jaarlikse Gim-Goud-derby gewen, met die o.19A-span wat met 39 – 28 triomfeer het.

Op streekvlak het Gim twee van die vier ligas gewen (o.14 en o.19), en twee spanne was derde (o.15 en o.16).

“Hierdie suksesse onderstreep Gim se status as ‘n rugbykrag in die streek,” sê Michael Herbert, die afrigter van die tweede span.

Welkom-Gimnasium se seëvierende tweede rugbyspan.
Welkom-Gimnasium se seëvierende tweede rugbyspan.

Netbal het eweneens hoogtepunte beleef; Gim se netbalspanne het sewe uit 12 derby-wedstryde gewen.

Boonop is 15 van Gim se netbalmeisies is in Lejweleputswa-spanne ingesluit, en vier spelers het deurgedring na Vrystaatspanne wat in die Junie-vakansie aan nasionale toere deelgeneem het.

Die instelling van Fast Five-netbal in 2024 het nuwe ontwikkelingsgeleenthede geskep. Die o.15-Fast Five-span het die 2024-Lejweleputswa-liga gewen, en die o.17’s was derde. Dié liga word in 2025 voortgesit.Gim het Lejweleputswa ook in die Vrystaat-kampioenskap verteenwoordig.

Die gewilde Gimmie-netbaltoernooi het 12 skole en 22 spanne van die Vrystaat en Noordwes getrek.

Op die bestuursvlak het Gim se afrigters beïndruk. Ina Joubert het die Vrystaat as spanbestuurder verteenwoordig, en Simone Cloete en Jonel Scott dien in die Lejweleputswa-netbalkomittee.

Op die hokkieveld is spoggerige suksesse behaal.

Die o.14A- en o.16A-spanne is ligawenners en was albei derde in die Noord-Vrystaat. Van dié spelers is 26 spelers vir die Lejweleputswa-span gekies, en 22 spelers vir die Noord-Vrystaatspan.

Die o.14-meisiespan het sy liga twee jaar agtereenvolgens gewen (2024 en 2025), en die o.16-meisiespan het sy liga in 2025 gewen.

Een van die seunshokkie-spelers is vir die o.19-span na Italië gekeur, en drie van die meisiespelers is gekies vir die o.14-span na Nederland.

Twee personeellede is as provinsiale afrigters aangewys, en drie personeellede het hul Saha-afrigters-

kwalifikasie van die Suid-Afrikaanse Hokkievereniging ontvang. Retha van der Merwe is die tesourier van Lejweleputswa-hokkie en Monique Oosthuizen sekretaresse van dieselfde organisasie.

Welkom-Gimnasium se eerste netbalspan. Van links is, voor: Mieke Erasmus, Karabo Kondile en Tshegofatso Mokgatsi; agter: Khensani Mkhabela, Zinhle Ndwalane, Thandaza Tshangela (onderkaptein), Chanté Walker (afrigter), Marlene Groenewald (afrigter), Simoné Cloete (afrigter), Thatohoatsi Moalosi, Hayley Wedderspoon (kaptein) en Kira Fourie. Foto: Verskaf

“Dit is sowaar ‘n seisoen om op trots te wees, meen Johan Slabbert, skoolhoof van Welkom-Gimnasium.

“Uitmuntende uitslae in drie groot sportsoorte bevestig dat Welkom-Gimnasium nie net ‘n mededinger op plaaslike vlak is nie, maar ook ‘n trotse bydraer tot die breër sportgemeenskap.

“Die skoolgemeenskap is dankbaar vir elke speler en afrigter wat met passie en deursettingsvermoë die merkwaardige seisoen moontlik gemaak het.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article