Moses-Geroep
Moses (NIc Beukes) en CW Laten (Ramses) in die toneelstuk. FOTO’s Lientjie Mentz

Meer as 60 amateur-akteurs is te sien in die ATKV-tak Gemeenskapsteater se grootse produksie Moses…Geroep!, wat die naweek ‘n indrukwekkende teaterervaring beloof.

Die produksie, wat in die Sand du Plessis-teater opgevoer word, is geskryf deur twee gesoute akteurs: CW Laten en Nic Beukes.

Hulle vertolk ook die hoofrolle in die stuk: Nic as Moses en CW as Ramses.

Peter Taljaard is die regisseur. Met jare se verhoogervaring en ‘n voorliefde vir storievertelling, bring hy hierdie unieke passiespel tot lewe – kragtig, emosioneel en visueel indrukwekkend.

Anneri Bosman, assistent-regisseur, speel met haar energie, toewyding en liefde vir teater ‘n sleutelrol agter die skerms om elke toneel kragtig en geloofwaardig op die verhoog te laat ontvou.

Jaco Bezuidenhout is die musikale regisseur van die stuk en saam met ‘n groep uitstekende musici begelei hulle die musikale nommers in die produksie.

Die lede van die teatergeselskap vervul die rolle van individue en ook die twee volke wat sentraal in die toneelstuk staan: Israel en die Egiptenare.

Die toneelspelers in Moses-Geroep! wat 20 en 21 Maart in die Sand du Plessis-teater opgevoer word.

Die produksie vertel die verhaal van Moses: Van baba tussen die biesies, tot prins van Egipte, en eindelik God se geroepe leier by die brandende bos.

Moses…Geroep! is ‘n epiese verhoogproduksie wat die tydlose verhaal van Moses en Ramses ten toon stel. Dit is ‘n verhaal waar vriendskap, mag en geloof bots. ‘n Verhaal oor gehoorsaamheid, weerstand en die prys van ‘n roeping, met die boodskap: “U wil – nie myne nie.”

Moet dit nie misloop nie. Daar is slegs twee vertonings.

Kaartjies vir die vertonings, op Vrydag 20 Maart en Saterdag telkens om 19:00, kos R150 op webtickets.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article