Welkom-Gimnasium het die Shimla-liga vir groot skole in die Vrystaat en die Noord-Kaap ’n tweede jaar agtereenvolgens gewen deur die Hoërskool Voortrekker op Shimlapark in Bloemfontein met 27 – 19 te klop. Hier is die span met die trofee ná die wedstryd. Renaldo Kiewiet, losskakel en kaptein (voor, derde van regs), het die trofee in ontvangs geneem. Foto: Mlungisi Louw


Welkom-Gimnasium se projek om kinders uit gebroke huise in te neem en in ’n wenspan saam te snoer, werp vrugte af deurdat dié skool se eerste rugbyspan pas vir die tweede jaar agtereenvolgens as die kampioenspan in die Shimla-liga gekroon is.

Gimmies het op Saterdag 24 Augustus die Hoërskool Voortrekker met 27 – 19 geklop om as die kampioen in dié liga vir groot skole in die Vrystaat en die Noord-Kaap aangewys te word. Die wedstryd is op Shimlapark in Bloemfontein beslis.

Welkom-Gimnasium het die Shimla-liga nou vier keer die afgelope sewe jaar gewen. Die skool was benewens laas jaar ook in 2019 en 2018 die wenner.

Roean Bezuidenhout, afrigter, sê die skool het tien jaar gelede met die projek begin om so divers soos die land wees. Al die seuns besef hoe belangrik elkeen in die span is.

“Afrigters inkluis, saam met die seuns, is seker 90% uit gebroke huise. Dit is waarna ons streef. Ons probeer ouerfigure vir hulle wees, en die ouens koop in by die plan.

“Ons is ’n familie. Ons los niemand agter nie; almal word saamgetrek. Jy moet altyd ’n ou drop, en dit is wat ek as afrigter ongelukkig nie kan doen nie. Die manne by die huis is net so deel van die span soos die ou wat die span vandag gedra het.”

Renaldo Kiewiet, kaptein en losskakel wat ook as die speler van die wedstryd aangewys is, sê hulle het die Griffon-liga teen Voortrekker verloor, maar wou seker maak hulle wen weer die Shimla-liga. Hy is oorspronklik van George in die Suid-Kaap en is een van die seuns wat na Welkom gekom het om lid van die wenspan te word.

“Dit was weens swaar omstandighede by die huis dat ek hierheen gekom het. Hier bo is meer geleenthede vir ons. Ek wil volgende jaar (ná matriek) by die Griffons bly en profes­sioneel rugby speel.”

Bezuidenhout sê Renaldo het ’n ongelooflike seisoen gehad, met baie drieë en punte.

Gimmies se plan om ’n wenkultuur te kweek, is eenvoudig: “Goeie seuns, manne wat inkoop by die plan, ’n goeie afrigtingspan en ouens wat ons omring en saamwerk,” som Bezuidenhout dit op.

Gimmies het die ligawedstryd teen Voortrekker verloor, maar het hul tuiswerk gedoen en in die video’s gaan kyk na die foute wat hulle gemaak het.

“Die boodskap was: Beperk jou foute, bly gedissiplineerd en die res sal gebeur.”

Voortrekker het die eerste helfte oorheers en in rustyd met 12 – 10 voorgeloop. Ná lemoentyd het Gimmies drie vinnige drieë gedruk. Voortrekker moes daarna probeer inhaal. Veral Frederik Fourie, buitesenter van Voortrekker, het uitgestaan en twee drieë gedruk. Cecil Parsons het met sy kragspel bresse geslaan en is met ’n drie beloon.

Bezuidenhout sê die eerste span se afrigters kan nie al die glorie neem nie. Die o. 14- en o. 16-afrigters doen goeie werk.

Charles Smith

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article