Geregtigheid het die week vir die vermoorde Nini Pule geskied toe haar moordenaars swaar vonnisse opgelê is.

Die hooggeregshof in Welkom het op Woensdag 13 September vir Malefetsane Mpotle, Sebongile Matsorotso Soul en Mojaki Pattern Phara tot tronkstraf gevonnis nadat Mpotle se meisie, Nini Pule, ’n student aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (CUT), Welkom-kampus, in 2021 dood gekry is. Haar keel is gesny.

Op 13 Mei 2021 het Mpotle gesê dat hy saam met Pule en haar drie-jarige seun gereis het toe hulle gekaap is.

Hy het aan die Theunissen-polisie gesê sy het saam met die kapers in die motor gebly toe hulle gery het. Haar seun het egter by hom gebly.

Aanvanklik is ’n saak van kaping ondersoek, maar later is gevind dat Mpotle se verklaring vals was.

Polisiebeamptes van naburige polisiekantore het met die soektog gehelp en die afgetrede speurder AO Eddie Mothibi en AO Liezel van der Westhuizen het die voertuig op die pad na Winburg opgemerk.

Benewens die moordklag, is ’n saak van diefstal geopen nadat Pule se selfoon as vermis aangemeld is.

Verdere ondersoeke het gelei tot die inhegtenisneming van twee verdagtes in Theunissen in Augustus 2021, en Mpotle is ’n paar dae later in Hennenman vasgetrek.

Die eerste beskuldigde, Phara, is tot lewenslange tronkstraf vir moord opgelê, en ’n bykomende drie jaar vir selfoondiefstal.

Soul het 23 jaar tronkstraf vir moord en drie jaar vir diefstal gekry, en Mpotle is lewenslange tronkstraf vir moord, drie jaar vir selfoondiefstal, en ’n bykomende 12 maande vir regsverydeling opgelê.

“Ek wil die ondersoekspan vir ’n deeglike ondersoek wat tot hierdie swaar vonnisse gelei het, loof.

“Uiteindelik geskied geregtigheid vir die familie van Nini Pule van Hennenman,” sê brig. Mzondi Mojafi, waarnemende kommissaris van Lejweleputswa.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Vista E-Edition 6 March 2026
    Vista E Edition

Gift this article